Central SA
Die Naartjie help selfoondief vang─── 17:58 Thu, 16 Mar 2023
Die oranje voertuig waarmee die VF Plus se Noord-Kaapse organiseerder, Wilhelm Reichert, sy werk doen, is ’n bekende gesig op die provinsie se uitgestrekte paaie.
Donderdag het dit egter ’ nuwe rol gespeel toe Reichert dit gebruik het om ’n beweerde selfoondief in Kimberley vas te trek.
Hy was besig om te werk toe hy 'n skoolmeisie van Hoërskool Adamantia hoor skree. Met sy aankoms op die toneel het Reichert se buurman reeds die meisie te hulp gesnel.
Haar selfoon is gesteel en ’n verdagte het daarmee weggehardloop. Reichert het onmiddellik die buurtwag in kennis gestel en in sy voertuig, liefderyk “Die Naartjie” genoem, gespring en die verdagte ingejaag.
Met die hulp van die gemeenskap, ’n plaaslike onderneming se werknemers en polisie wat gou op die toneel was, is die verdagte voorgekeer en die selfoon by hom gevind.
"Hierdie voorval wys hoe ’n gemeenskap wat deur buurtwagte en ander instellings saamstaan, die polisie kan help om misdaad te voorkom," sê Reichert.
