On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Baba van Rustenburg ná vier ure uit boorgat gered

───   17:19 Fri, 24 Mar 2023

Baba van Rustenburg ná vier ure uit boorgat gered | News Article
Katlego Kgobane sê haar baba het die dood oorleef. Foto: Rapula Mancai/Daily SUn

Die familie van ‘n eenjarige babaseuntjie van Phokeng in Rustenburg kry nog daagliks nagmerrie-terugflitse sedert hy verlede week vir vier ure lank in ‘n boorgat vasgekeer was.

Thoriso Kgobane het Donderdag 16 Maart omstreeks 11:00 sowat 13 meter ver in ‘n boorgat van 21 meter diep geval, berig Daily Sun.

Volgens gemeenskapslede het die kleuter se ma, Katlego Kgobane, inkopies gaan doen en die baba in sy ouma se sorg gelaat.

‘n Konstruksiemaatskappy wat 'n tyd gelede met die boorgat by die ouma se huis begin het, het glo nagelaat om die gat toe te maak of af te sper.

Aanvanklik is ‘n tou gebruik om die seuntjie te probeer bereik, maar dit was te kort.

“Iemand in die gemeenskap het op die idee gekom om die myn se reddingspan te bel,” vertel Thoriso se oom, Nkoketseng Kgobane.

Platinum Weekly berig op Facebook dat die hulp van Royal Bafokeng-nooddienste ingeroep is.

Omdat die kind se veilige verwydering van kardinale belang was, het die nooddienste kragte saamgesnoer met die Rustenburg Nood- en Rampbestuur, die polisie, ER24, ‘n nooddiensspan van Impala Myn asook die Igagu-nooddienste.

‘n Laaigraaf is gebruik om 'n sloot naby die gat te grawe wat die reddingspan sou help om toegang tot die kind te kry.


Die familie het saam met omstanders in stille afwagting gestaan, en elke keer as die laaigraaf stilgehou het, is daar na tekens van lewe uit die gat geluister.

Na twee ure het mense hardop begin bid. “God wees hierdie kind genadig,” kon van die desperate skare gehoor word. 

‘n Tweede laaigraaf het net ná 14:00 opgedaag. 'n Sloot van ongeveer 11 meter is gegrawe, en daar is besluit dat die beste metode sou wees om iemand in die gat te laat sak om die seuntjie uit te haal.

Olebogeng Mataboge, ‘n lid van die munisipale nood- en rampbestuurspan wat klein van postuur is, is kop eerste laat sak. Hy het die seuntjie aan sy hand gegryp en uitgehaal. 

Die verwarde seuntjie, wat glo nie ‘n traan gestort het nie, is aan paramedici oorhandig en saam met familielede hospitaal toe geneem. Hy het geen sigbare beserings gehad nie en is huis toe.

Thoriso se oom sê: “Almal het gebid, ons is verenig deur een gebed en dit is hoe Thoriso gered is.”

Sy ouma, Regina Kgobane, sê hulle is steeds getraumatiseer deur die ervaring. "Ek word elke dag wakker met 'n diep gevoel van dankbaarheid, want ek het die krag van God gesien."

Die boorgat is intussen met grond opgevul.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.