On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jong Noord-Kaapse atleet blink uit ondanks gestremdheid

───   CHARNÉ KEMP 09:35 Tue, 28 Mar 2023

Jong Noord-Kaapse atleet blink uit ondanks gestremdheid | News Article
Willene Wiid en haar ma Emmari Wiid, wat haar ook afrig. FOTO: Verskaf

Was die gestremde Willene Wiid (12) van Hopetown in die Noord-Kaap nie in ’n gewone skool waar sy met ander kinders kan meeding nie, was sy waarskynlik nie ’n kampioenatleet nie.

Dít, tesame met haar eie vasbeslotenheid, het dié leerder van die Hoërskool Hopetown help uitblink tydens die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes se byeenkoms in die Groenpunt-stadion in Kaapstad.

Willene het sewe goue medaljes verower en vyf rekords verbeter.

Die kranige atleet het goud gewen vir gewigstoot, in die 1 000m- en 3 000m-fietsry, asook in die 100m-naelloop, waarin sy die Suid-Afrikaanse rekord met 3 sekondes verbeter het.

Die gestremde atleet, Willene Wiid, met haar medaljes wat sy by die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Fisiek Gestremdes se byeenkoms gewen het. FOTO: Verskaf

Willene Wiid met haar medaljes wat sy by die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Fisiek Gestremdes se byeenkoms gewen het. FOTO: Verskaf

In die spiesgooi het sy ook ’n goue medalje verower en ’n eerste rekord opgestel. Die standaardafstand is 7,3m, terwyl sy 13,34m gegooi het. Haar goue medalje in verspring was vir ’n rekordsprong van 2,25m, amper twee keer so ver soos die vorige rekord van 1,2m.

Willene het ook ’n rekord in diskus opgestel met ’n afstand van 14,41m. Die ou rekord was 9,9m.

Gegewe die grootte van die Noord-Kaapse span het hulle baie goed teen ander provinsies gevaar, sê Emmari, Willene se ma. Die meeste ander Noord-Kaapse atlete was leerlinge van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley. “Ons het sommer lekker saam gekuier,” vertel Emmari.

Met Willene se terugkeer na die skool verlede week, het die personeel en leerders ’n erewag gevorm en haar met blomme en gelukwensings verwelkom.


As vyfjarige meisie het Willene ’n seldsame beroerte vir só ’n jong kind beleef, wat haar regterkant verlam het. “Daarna moes sy alles van vooraf leer doen, soos kruip, loop, praat, en baie meer.

“Ons is dankbaar al wat sy oorgehou het ná vele uitdagings is dat haar regterarm en -hand en regterbeen nie normaal funksioneer nie. Die beweeglikheid van haar arm en been is nog aangetas. Sy moet stutte dra om haar vingers, voet en tone beweegliker te maak.”

Emmari sê sy het destyds aanvanklik gedink dit was ’n epileptiese toeval. “Dit was verstommend toe ons ná ’n hele reeks toetse moes uitvind dat ’n jong kind soos Willene ’n beroerte beleef het. Met my navorsing het ek gesien daar is baie sulke voorvalle in Amerika aangemeld.”

Nog ’n tragedie het hulle verlede jaar getref toe haar man en Willene se pa, Jannie, onverwags oorlede is.

Willene hou baie van sport, en speel ook netbal en tennis, swem, doen ballet en gim twee keer per week.

“Ek is ook gek oor perde. Ek het twee en my ma een. Hul name is Blessie, Misty en Sally,” vertel die twaalfjarige. “Ek wil eendag ’n perdeafrigter word, enigiets, solank dit met perde te make het.”

“Ons is twee vroue wat sterk staan,” sê Emmari, wat by ’n boerdery in die omgewing werk, en voeg by: “My passie is sport.”

Sy het sportbestuur studeer en het ’n honneursgraad in kinderkinetika. “Min het ek geweet hoe dié vakrigting my met my eie dogter se rehabilitasie sou help.

“Ek het ook die voorreg om haar af te rig. Ek dink dit is ’n goeie ding dat my kind in ’n gewone skool is waar sy teen ander kinders in sportitems moet meeding. Dit het haar sterker gemaak.”

Willene wil moontlik oorsee deelneem, maar sy is baie jonk vir die o.14-afdeling. Ma en dogter sal daaroor besin.

Intussen oefen sy steeds daagliks en ontspan saam met haar geliefde perde.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.