Central SA
Springbokhof gee kabeldiewe swaar vonnis─── 15:08 Tue, 28 Mar 2023

Tydens ’n geskiedkundige en veelbesproke hofsaak is vier kabeldiewe onlangs swaar deur die Springbokstreekshof gestraf.
Hulle is Marlo Bock, Luwane Vaughan, Lorenzo Thomas en André Bezuidenhoudt van Nababeep in die Noord-Kaap.
Volgens ‘n polisiewoordvoer, sers. Sam Timothy, het die viertal van 2020 tot 2021 koperkabels van Telkom gesteel en gesmelt en daarna die koper aan skrootwerwe verkoop.
Al vier is deur die streekshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Die hof het hulle beskou as gewelddadige en gewoonte-misdadigers met verskeie vorige veroordelings.
Hulle het Vaughan se woning aan die buitewyke van Nababeep gebruik as die depot waarheen die gesteelde kabels karwei is, het die hof gehoor.
Hier is ongeveer 440m koperkabels ter waarde van R30 000 gebrand sodat dit nie as Telkom-eiendom uitgeken kon word nie.
"Julle kan julle gelukkig ag dat julle nie die voorgeskrewe maksimum vonnis van 30 jaar of ’n boete van R100 miljoen vandag ontvang nie," het die streekshof-landdros tydens haar uitspraak gesê.
Die vier het die minimum vonnis van 15 jaar gekry vir die verwydering van en peutering aan noodsaaklike infrastruktuur. Hulle is verder onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Volgens die streekshof-staatsaanklaer, Basil Kock, is dit waarskynlik die eerste vonnis van dié aard in die Springbokhof. Hy het die sterkste moontlike minimum vonnis gevra en aangevoer dat die inwoners van Nababeep baie verontrief is deur die kabeldiefstal.
Die vier beskuldigdes het gebruik gemaak van ’n staatsprokureur.
Rodney Kritzinger, speaker van die Nama Khoi-munisipaliteit op Springbok het die swaar vonnisse verwelkom.
OFM-nuus/Isaac Cloete