Central SA
Noord-Kaapse nie-regeringsorganisasie as wenner aangekondig─── 09:46 Thu, 30 Mar 2023
’n Noord-Kaapse nie-regeringsorganisasie is as ’n wenner aangewys vir baanbrekerswerk om inwoners in Suid-Afrika se omstandighede te verbeter.
Die nie-regeringsorganisasie Each1Feeds1, onder voorsitterskap van Stanley Peterson – gemeenskapsaktivis, kampvegter vir menseregte, politieke leier en ook die huidige Speaker van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit – is deur die internasionale organisasie Acquisition International aangewys as Suid-Afrika se beste nie-winsgewende organisasie in die kategorie: Mees doeltreffende voedselpakkie-verskaffers.
Die aankondiging is gedoen deur Each1Feeds1 se administrateur en direkteur, Annami Bruwer, wat die nuus via ’n epos aangekondig het.

Peterson sê die groep lewer sedert die begin van die Covid-pandemie noodsaaklike voedselprodukte, asook sanitêre produkte en ander ondersteuningsdienste aan behoeftige huishoudings.

Volgens Statistiek Suid-Afrika se syfers in 2021, ly nagenoeg twee miljoen huishoudings in Suid-Afrika honger, wat 683 221 kinders insluit. Met betrekking tot huishoudings wat onvoldoende toegang tot voedsel gerapporteer het, was die Noord-Kaap (13,0%), Mpumalanga (12,3%) en Noordwes (11,6%) die enigste drie provinsies met ernstige onvoldoende toegang tot voedsel – byna twee keer die nasionale gemiddelde. Die persentasie huishoudings met kinders van 5 jaar of jonger wat honger ervaar het, was die hoogste in die Noord-Kaap met 23,6%.

Peterson se dié syfers wek kommer en hy doen ’n beroep op die regering om op te hou praat en iets te begin doen om die situasie van inwoners te verbeter. Hy sê inwoners moet uiters versigtig wees om nie in ’n gemeenskap te ontaard wat bakhand staan, en van die regering afhanklik is nie, maar moet eerder begin selfonderhoudend raak deur groente en vrugte in gemeenskaptuine te verbou, asook projekte te begin wat werksekerheid en samehorigheid gaan bevorder.
OFM-nuus/Roderick Titus
