On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Vier wiskundestudente binnekort na Amerika

───   CHARNÉ KEMP 14:21 Tue, 04 Apr 2023

Vier wiskundestudente binnekort na Amerika | News Article
Die personeel en leerlinge van Van links is Frances Juries, MLSA-kantooradministrateur; Mandisa Lebitso, vakadviseur; Tlotlo Letimela, Parsons Mxinzeleli, Taytim van Wyk en Kamohelo Lesiea. FOTO: Charné Kemp

Vier hoërskoolleerlinge, wat die Maths and Leadership Academy (MLSA) in Kimberley na-uurs bywoon, vlieg Vrydag (7/4) na Amerika om dié land met hul leierskapeienskappe en wiskundevaardighede te verower.

Die viertal het die afgelope week vir die eerste keer gevlieg en Kaapstad beleef as deel van ’n besoek aan die Amerikaanse ambassade om hul visums te bevestig.

Taytim van Wyk van die Hoërskool Emmanuel, Tlotlo Letimela van die Hoërskool Noord-Kaap, Parsons Mxinzeleli van die Tegniese Hoërskool Kimberley, en Kamohelo Lesiea van die Hoërskool Dr EP Lekhela, pluk die vrugte van hul wiskundige en wetenskaplike vermoëns, deursettingsvermoë en leierskapeienskappe.

Hulle is die enigste Suid-Afrikaanse leerlinge wat deel uitmaak van die Lente PanAfrika-jeugleierskaprogram (PAYLP) en wat die beraad in Seattle in die Amerikaanse deelstaat Washington bywoon.


Mandisa Lebitso, vakadviseur, verduidelik wat sy en die leerlinge in Amerika by die Lente PanAfrika jeugleierskaprogram (PAYLP) beraad in Seattle gaan doen.


Die vier is genooi deur Reuben Brigety II, Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika. Dit is die tweede keer wat leerlinge van die MLSA die geleentheid kry. Brigety was vroeër by die skool se kantoor in Kimberley en was baie beïndruk met die leerprogramme en leerlinge se prestasies.


Mandisa Lebitso, wat by die Noord-Kaapse departement van onderwys as vakadviseur vir wiskunde werk en ook by MLSA klas gee, gaan die leerlinge as mentor vergesel.

“Dit is ’n baie opwindende geleentheid om Suid-Afrika te verteenwoordig,” sê sy. “Ons sien daarna uit om baie te leer en met ander jeugdiges van ander lande te gesels en mekaar se kultuur te leer ken.

“Ons gaan eers in Atlanta oriëntering ondergaan en word in drie groepe verdeel. Ons groep gaan na Seattle waar ons twee weke sal bly.

“Ons sal nuwe projek daar voorberei wat ons hier sal moet toepas om Suid-Afrika se uitdagings op te los. Hulle gaan opgelei word oor hoe om dié program suksesvol toe te pas. Behalwe die beraad sal ons ook toeristebestemmings besoek.”

Letimela, wat eendag ’n ginekoloog wil word, sê sy is baie opgewonde. “Ek is so dankbaar oor die unieke geleentheid. Ek is trots om Suid-Afrika te verteenwoordig.

“Die MLSA het baie vir my beteken en soveel deure vir my oopgemaak. Dit is nie elke dag wat ’n kind van Suid-Afrika na Amerika kan gaan nie.”

Mxinzeleli kan steeds nie glo hy gaan Amerika toe nie. “Ek wil eendag ’n astrofisikus word. Die MLSA het alles vir my beteken sedert ek in gr. 6 hier aangekom het.

“Ek sou nooit toe kon dink dat ek so ’n geleentheid sou kry nie. Ek kon hier talente en vaardighede slyp en ’n toekoms bou.”

Van Wyk sê haar maats is tegelyk jaloers en trots op haar. “Hulle glo ek verdien die geleentheid omdat ek hard gewerk het. My skool het my destyds genomineer om na MSLA te kom.

“Toe het ek nooit kon dink dat ek so goed in wiskunde sou doen nie. Dit was moeilik by tye, maar ek is baie trots op my prestasies.”

Sy en Lesiea wil albei kardioloë word. Hy sê hy beplan om vir die ander bywoners te gaan beding. “Ek wil ‘n kardioloog word want my ma het hartprobleme en ek het nie die kennis en vaardighede om haar te help nie. As ek ’n spesialis is, sal ek ander mense met dieselfde probleme kan help.”  

Amerika se departement van onderwys en kulturele sake betaal vir die program, wat bestuur word deur die Meridian Internasionale Sentrum.

Die PAYLP is ’n kruisbestuiwingsprogram waarvolgens leerlinge uit alle wêrelddele werksessies bywoon, probleme oplos en mekaar se kultuur leer ken. Hulle sal ’n program ontwikkel wat hulle met hul terugkeer by die MLSA moet toepas.

MLSA, ’n organisasie sonder winsoogmerk, is in 2006 gestig in reaksie op die swak gehalte van onderwys in die Noord-Kaap, veral in wiskunde en wetenskap. Hulle bied smiddae, Saterdae en vakansietye klasse in wiskunde, wetenskap, digitale geletterdheid, wêreldburgerskap en beroepsvoorligting aan vir kinders wat hul toekoms wil bou.

Deur skenkings word leerders voorsien van uitstekende onderwysers, skryfbehoeftes, studiegidse, verversings en vervoer vir diegene wat dit nodig het.  Dit is ook die enigste sentrum in die Noord-Kaap wat Microsoft Office Specialist Associate-sertifisering in Word 2019, Excel 2019 en Powerpoint 2018 aanbied.

Die oogmerk is om kinders holisties te help, sê Anne Maclean, die projekbestuurder. Tot dusver het hulle ’n bydrae tot 1 500 kinders se opvoeding gelewer, onder wie dié wat programme op Pofadder en Boshof bygewoon het.

Hulle onderrig uitgesoekte leerders van gr. 9 tot gr. 12. Die kinders betaal jaarliks R200, as hulle dit kan bekostig. Die meeste word geborg.

OFM News

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.