Central SA
Yes-inisiatief help meer as 100 000 jongmense met werk─── 14:57 Wed, 05 Apr 2023

‘n Inisiatief deur die regering en private besighede van regoor Suid-Afrikca om jongmense tussen 18 en 29 jaar toe te rus om die arbeidsmark te betree, werp vrugte af.
Die inisiatief, Youth Employment Services (Yes), het die afgelope vier jaar al meer as 100 000 jongmense by werkgewers geplaas. Dié jongmense het só R6 miljard in salarisse verdien, noodsaaklike ondervinding opgedoen en hul gesinne onderhou.
Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê baie jong mense in Suid-Afrika vind dit moeilik om werk te kry omdat hulle geen werkservaring het nie. “Hulle kom uit die skool, universiteit of kollege met kwalifikasies, maar baie werkgewers soek mense met ondervinding.”
Die Yes-inisiatief werk saam met maatskappye om ‘n jaar se werkservaring aan jongmense te bied en só jeugwerkloosheid op ‘n praktiese manier hok te slaan.
Uitvoerende hoof, Ravi Naidoo, sê op Yes se webwerf dat Yes nie net meer as 100 000 werksgeleenthede gefasiliteer nie, dit het jongmense die vaardighede, ondervinding en sosiale netwerke gegee wat hulle nodig het om tot die ekonomie by te dra.
Na raming kom 61% van Yes-deelnemers uit huishoudings wat van maatskaplike toelaes afhanklik is, berig die Daily Maverick. Tot sowat 77% het afhanklikes, dus bevoordeel hul inkomste hele gesinne en selfs gemeenskappe.
Een deelnemer, wat vir 'n jaar by Mercedes Benz geplaas is, was die enigste broodwinner in 'n gesin van vier. Sy het aan Yes gesê dat sy nie net in staat was om haar gesin te onderhou nie, sy kon ook spaar om 'n braaikuikenonderneming te begin.
‘n Ander Yes-deelnemer is by die Drone Academy in Gauteng geplaas wat opleiding bied in die instandhouding en bedryf van hommeltuie wat vir sakedoeleindes gebruik word. Nadat hy sy opleiding voltooi het, is hy in diens geneem deur 'n toonaangewende maatskappy in Nederland.
Die Yes-inisiatief bied ook opleiding in IT, waterboerdery (akwaponika), kulinêre vaardighede, tekstielvervaardiging, keramiek, pottebakkery en motorvervaardiging.
Yes het vanjaar reeds 'n nuwe rekord van 32 400 poste behaal. Tans neem meer as 1 400 besighede deel en die doel is om plasings te verhoog namate meer maatskappye deelneem en meer geleenthede beskikbaar gestel word.
“Ons het nog altyd gesê die werkloosheidskrisis kan slegs oorkom word as alle maatskaplike vennote aan boord kom,” sê pres. Ramaphosa. “As hoofbron van werkskepping en -behoud in die meeste lande regoor die wêreld, insluitend ons eie, is die private sektor se betrokkenheid van kritieke belang.
“As die regering sal ons voortgaan om deur regulasies en wetgewing sakeondernemings aan te moedig om meer jong Suid-Afrikaners aan te stel.”