Central SA
Polisie steek stokkie voor 16 rare passasiers se uitstappie in minibus─── 12:01 Fri, 07 Apr 2023
Noordwes-polisie het ’n minibus suid van Northam voorgekeer en op 16 gesteelde skape afgekom.
As deel van hul voorneme om dié Paasnaweek meer sigbaar te wees en beslag te lê op gesteelde eiendom het beamptes van Rustenburg se eenheid vir openbare orde Donderdag (6/4) patrollie gehou op die R510 tussen Northam en Rustenburg.
Hulle het onraad vermoed toe hulle ’n Toyota Quantum met verdonkerde ruite gewaar en die bestuurder gelas om stil te hou. Dit was toe dat beamptes afkom op die 16 blêrende passasiers ter waarde van sowat R48 000.
Drie mans tussen 20 en 59 jaar is in hegtenis geneem omdat hulle nie kon verklaar waar hulle aan die skape gekom het nie. Die diere is later verbind met ’n veediefstal by Northam, oorkant die grens in Limpopo.

Daar was nie plek vir ’n muis in die Toyota Quantum nie nadat die vermeende skaapdiewe al 16 gesteelde skape daarin geprop het. Foto: SAPD
Die polisie sê tydens hul ondersoek het hulle ’n vierde verdagte geïdentifiseer, maar dié kon hulle tot dusver nie gevang gekry nie. Sy makkers kom na verwagting Dinsdag (11/4) voor in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane, Rustenburg.
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul oplettendheid wat daartoe gelei het dat die skape teruggevind is.
