Central SA
VF Plus teen samesmelting van Noordwes-munisipaliteite─── 11:00 Thu, 13 Apr 2023
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Noordwes sê hy is gekant teen die inlywing van die munisipaliteite van Madibeng en Kgetlengrivier by die munisipaliteit van Rustenburg.
Die VF Plus-lid in die provinsiale wetgewer, De Wet Nel, beskryf die inlywing deur die Munisipale Afbakeningsraad as “die konsentrasie van korrupsie in die munisipaliteite”, berig The Citizen.
Die ANC in Rustenburg se munisipaliteit is in koalisie met kleiner partye, naamlik die African Independent Congress, Arona, Forum 4 Service Delivery en een onafhanklike raadslid.
Kgetlengrivier sluit die dorpe van Koster, Derby en Swartruggens in, terwyl Madibeng die dorpe van Brits, Hartbeespoort en Mooinooi insluit.
“Die inlywing van Kgetlengrivier en ander munisipale gebiede by Rustenburg sal geen inwoners bevoordeel nie,” sê Nel.
“Die inwoners van Rustenburg, Kgetlengrivier en Madibeng word al vir jare geteister deur die negatiewe gevolge van die ANC se wanbestuur en korrupsie in dié munisipaliteite. Die ANC kan hierdie munisipaliteit slegs met die steun van kleiner partye regeer.”
Barileng Dichabe, woordvoerder van die Munisipale Afbakeningsraad, sê die besluit is nog nie finaal nie.
"Dit is 'n lang proses waartydens openbare verhore gehou sal word om die mening van die publiek aan te hoor en te oorweeg. Dit sal in Augustus plaasvind," sê sy.
“Die publiek sal in Oktober toegelaat word om beswaar aan te teken. Ons sal tussen Desember en Januarie weet wat die finale besluit is oor al die veranderinge wat in munisipaliteite gemaak is.”
Die VF Plus het die ANC daarvan beskuldig dat die party hierdie taktiek toepas “om nie beheer oor die munisipaliteite te verloor nie”.
“Om hierdie munisipale gebiede by Rustenburg in te sluit is 'n siniese poging van die ANC om 'n volstrekte meerderheid in die Rustenburg-raad te kry.”
Prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit sê hy twyfel nie dat die motief agter die inlywing grootliks deur politieke oorweging gedryf word, eerder as sosiaal-ekonomiese oorweging of dienslewering nie.
“Ervaring leer ons dat hierdie samesmelting nie noodwendig werk nie. Die inlywing van JB Marks, Potchefstroom en Ventersdorp was ’n volslae mislukking.”
