Central SA
ActionSA omgekrap oor verbeurde toelae in Mangaung─── ZENANDE MPAME 15:40 Thu, 13 Apr 2023

Die Mangaung-metro het R75 miljoen se voorwaardelike toelae verbeur. Dit is onbestee en moes aan die tesourie teruggegee word al kon dié geld vir dienslewering gebruik word.
Die voorsitter van ActionSA in die Vrystaat, Patricia Kopane, sê hulle kon 686 HOP-huise teen 'n gemiddelde koste van R110 000 hiermee gebou het. Sy sê die meerderheid Mangaung-inwoners het nie behoorlike toilette nie en 7 500 toilette kon teen R10 000 per toilet gebou geword het.
Mangaung is een van die munisipaliteite in die Vrystaat wat nog sukkel met die emmerstelsel.
Die voorsitter van die NCOP, Itumeleng Ntsube, sê die probleme met puttoilette moes lankal opgelos gewees het, omdat dit inwoners se gesondheid benadeel.
LEES MEER: Vrystaat uitgedaag om emmerstelsel uit te roei
Die paaie in die metro is in ’n swak toestand en die toelaes kon gehelp het met 25km se geplaveide paaie in townships wat R300 per vierkante meter sou kos.
Inwoners moes ook self maatreëls tref weens die toenemende slaggate in hul omgewing.
LEES MEER – Slaggate: Gemeenskap neem reg in eie hande
In 2022 moes die metro R5 miljoen opdok vir skade wat deur slaggate veroorsaak is - 296 eise is nog nie afgehandel nie. Die grootste bedrag van R3 703 994 is in die 2021-’22-boekjaar uitbetaal en die minste R489 582. In die 2019-’20-boekjaar is R940 843 uitbetaal.
LEES MEER: Mangaung betaal miljoene uit vir slaggatskade-eise
Kopane sê die geld kon ook gebruik gewees het om 425 buurtwagposte te skep en om die werklose jeug in die metro te help.
LEES MEER: Honderde stroom na Bloemfontein-winkelsentrum vir werk
Kopane meen ActionSA sal nie rus voordat die inwoners van Mangaung die dienste ontvang wat hulle verdien nie.