On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Afrika se dollarmiljoenêrs word ál meer

───   17:00 Fri, 14 Apr 2023

Afrika se dollarmiljoenêrs word ál meer  | News Article

Suid-Afrika het meer as twee keer soveel dollarmiljoenêrs as enige ander Afrikaland, luidens die jaarlikse Afrika-welvaartverslag deur Henley & Vennote.

Suid-Afrika het 37 800 dollarmiljoenêrs (mense met net meer as R18 miljoen in hul spaarvarkie), terwyl Egipte met sy 16 000 dollarmiljoenêrs tweede is op die lys van Afrikalande met die meeste miljoenêrs.

Volgens die welvaartverslag is vier Suid-Afrikaanse stede onder die toptien met die meeste dollarmiljoenêr-inwoners, met Johannesburg bo-aan die lys met 14 600, Kaapstad derde met 7 200, Durban in die sesde plek met 3 600 terwyl Pretoria agtste is met sy 2 400 dollarmiljoenêrs.

Kaïro is net ‘n kortkop voor Kaapstad met 7 400 dollarmiljoenêrs, maar die Egiptiese hoofstad het volgens Wikipedia amper meer as vyf keer soveel inwoners (22 miljoen) teenoor Kaapstad se 4,8 miljoen inwoners.

Volgens Henley & Vennote se verslag het die Afrika-vasteland tans beleggingsrykdom gelykstaande aan $2 400 miljard.

Africanews berig dat die aantal dollarmiljoenêrs na verwagting oor die volgende tien jaar met 42% sal toeneem.

Die verslag dui ook aan dat Afrika se Groot 5-welvaartmarkte, Suid-Afrika, Egipte, Nigerië, Kenia en Marokko, saam 56% van die vasteland se hoë-nettowaarde-individue (HNWIe) en meer as 90% van sy dollarmiljardêrs bevat.

Kort op hul stinkryk sokkies se hakke is Mauritius en Rwanda wat besig is om vinnig veld te wen. Namibië se nuwe verblyfsreg-deur-beleggingsaanbod maak die land ook 'n toekomstige mededinger, berig The South African.

Afrika is die tuiste van 138 000 HNWIe met 'n rykdom van $1 miljoen of meer, asook 328 senti-dollarmiljoenêrs (individue met $100 miljoen of meer in die bank) en 23 dollarmiljardêrs.

Suid-Afrika het 98 senti-dollarmiljoenêrs met ‘n fortuin van net meer as R18 miljard en vyf dollarmiljardêrs.

Ondanks 'n uitdagende ekonomie die afgelope dekade, het Suid-Afrika steeds twee keer soveel HNWIe as enige ander Afrikaland, met 'n indrukwekkende 30% van die vasteland se senti-dollarmiljoenêrs.

Egipte het die hoogste aantal dollarmiljardêrs in Afrika.

Mauritius het verreweg die grootste rykdom per capita (gemiddelde rykdom per persoon) teen $37 500, gevolg deur Suid-Afrika met $10 880 en Namibië met $10 050.

Die verslag dui aan dat Afrika se welvaartmark bestendig groei, wat geleenthede bied vir beleggers, entrepreneurs en maatskappye, wat hul bedrywighede op die vasteland wil uitbrei.

Op die lys van Afrikalande met die meeste dollarmiljoenêrs: 1. Suid-Afrika (37 800); 2. Egipte (16 100); 3. Nigerië (9 800); 4. Kenia (7 700); 5. Marokko (5 800); 6. Mauritius (4 900); 7. Algerië (2 800); 8. Ethiopië (2 700); 9. Ghana (2 600) en 10. Tanzanië (2 400).

Die tien Afrikastede bo-aan Henley & Vennote se ranglys van stede met die meeste dollarmiljoenêrs is:

1. Johannesburg (14 600). Die rykste stad in Afrika se welvaart is hoofsaaklik gesentreer in Sandton, waar die JSE, die grootste aandelebeurs op die vasteland, en die hoofkantore van baie groot Afrika-banke en -korporasies geleë is. Die stad se vernaamste nywerhede bestaan uit finansiële dienste.

2. Kaïro (7 400). Die stad se belangrikste nywerhede sluit in finansiële dienste, telekommunikasie, kleinhandel, toerisme en basiese materiaal.

3. Kaapstad (7 200). Die tuiste van Afrika se mees luukse woonbuurte, met sy belangrikste nywerhede wat eiendom- en fondsbestuur insluit.

4. Lagos (5 400). Die digsbevolkte stad in Afrika en die belangrikste ekonomiese sentrum van Wes-Afrika. Die belangrikste sektore van die stad se ekonomie sluit in basiese materiaal, olie en gas, vervoer en finansiële dienste.

5. Nairobi (4 700). As een van die wêreld se vinnigste groeiende stede, dien Nairobi as die ekonomiese middelpunt van Oos-Afrika. Sy belangrikste nywerhede bestaan uit finansiële dienste, eiendom, toerisme, media, klere, tekstiele, verwerkte voedsel, drank en sigarette.

6. Durban (3 600)

7. Casablanca (2 800)

8. Pretoria (2 400)

9. Akkra (2 000)

10. Luanda (1 800)

Suid-Afrika is die tuiste van sommige van die wêreld se mees luukse woongebiede. Volgens New World Wealth se jongste syfers is daar ongeveer 3 700 huise in Suid-Afrika wat vir meer as $1 miljoen (sowat R18 miljoen) gewaardeer word.

Volgens hierdie maatstaaf tel Suid-Afrika as een van die 20 grootste prima residensiële markte ter wêreld, ver voor ander lande in Afrika en in ooreenstemming met groot ontluikende markte soos Indië en Brasilië.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.