Central SA
Beloftes aan inwoners by Harrismith-stortingsterrein nooit nagekom─── 15:28 Fri, 14 Apr 2023
Die DA het 'n klag by die Openbare Beskermer (OB) in Bloemfontein ingedien oor die onmenslike omstandighede van inwoners wat in Junie 2020 na meer as 500 sinkhuise langs die Harrismith-stortingsterrein verskuif is.
In die Provinsiale Wetgewer word dit beskryf as 'n 'noodbehuisingsprojek', en 'behuisingsontwikkeling'.
Die Maluti-a-Phofung- Plaaslike Munisipaliteit het hulle uit hul bestaande informele blyplekke na hierdie sinkhuise van 3 m X 3 m verskuif. Elke sinkhuis was op 'n omheinde perseel en het 'n 'VIP'-toilet gehad. Hulle is belowe dat die sinkhuise net tydelik is, en dat hulle paaie, elektrisiteit, behoorlike huise en titelaktes sal kry.
Ná drie jaar lewe hulle in haglike toestande weens die stofwolke, giftige as en rook in die omgewing. Die enkele JoJo-tenks tussen die huise, het byna nooit water nie. Daar is net een waterpyp waar die mense water in emmers kan gaan haal. Die paaie is weens reën in ’n swak toestand en daar is geen voorsiening vir stormwater gemaak nie. Hulle het ook geen elektrisiteit nie.
Van die inwoners het hul eie huise op die terrein gebou. Nie een van hulle het titelaktes ontvang nie, terwyl 'n gedeelte van die projek op grond in private besit gebou is.
Die Provinsiale Regering se versekering klink verdag dat 'n proses gevolg is om ’n dorp te stig, en dat daar met die private grondeienaar onderhandel word.
Syfers toon dat die oprigting van die sinkhuise R12 miljoen gekos het, maar die waarde van die kontrak was R151 miljoen.
Die ontwikkeling is tydens die streng inperking van die Covid-19-pandemie gedoen toe regulasies voorsiening gemaak het dat die normale verkrygingsprosesse gesystap kon word. Dit laat die vermoede ontstaan dat dit ’n manier kon wees om weereens die Vrystaatse fiskus van geld te beroof, wat in die sak van politici en kaders beland het.
Dit is belangrik dat die OB die saak ondersoek, en bepaal hoe die regering die mense so aan hul eie genade kon oorlaat en geld in hul naam bestee het.
Die ANC in die Vrystaat het herhaaldelik bewys dat hy nie omgee vir die armes en kwesbare inwoners nie, maar eerder hul lot as verskoning vir hul plundering sal gebruik.
Kiesers in die Vrystaat moet verseker dat hulle korrek geregistreer is om hierdie roofsugtige regering in 2024 te kan uitstem. Die DA het 'n rekord van die lewering van behoorlike en ordentlike huise aan arm en kwalifiserende begunstigdes, en is bereid om dieselfde te doen in die Vrystaat.
