Central SA
Polisie waarsku weer teen dié verkragters─── 11:41 Sat, 15 Apr 2023
Die polisie waarsku weereens sosiale media gebruikers om versigtig te wees wanneer hulle instem tot ontmoetings met mense wat hulle nie ken nie.
Minstens twee voorvalle van verkragting is by die polisie in Mpumalanga aangemeld nadat slagoffers op sosiale media oorreed is om vreemdelinge te ontmoet.
’n 18-jarige meisie is onlangs na aanleiding van ’n gesprek op Facebook in Mgobodzi, oos van Malelane, verkrag.
’n Man is twee weke gelede in hegtenis geneem nadat hy glo ’n 17-jarige meisie via Facebook gevra het om hom te ontmoet. Hy het haar na bewering daarna in Standerton verkrag.
“Ons wil ’n waarskuwing stuur – ons as die SAPD is bekommerd oor voorvalle van beweerde Facebook-verkragters. Daar is ’n aantal voorvalle wat in ons provinsie plaasgevind het. Een van dié verkragtings het op 25 Maart in Standerton plaasgevind. Die 25-jarige Tshepo Nxumalo het na bewering ’n 17-jarige op Facebook gekontak en haar oorreed om hom te ontmoet. Hy is gelukkig gearresteer en het in die hof verskyn.
"En die mees onlangse voorval was gedurende die Paasnaweek. ’n 18-jarige is by die Mgobodzi-bosse verkrag,” het Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, volgens die SABC verduidelik.
