Central SA
DA gaan veg vir Harrismith se grense─── 15:39 Tue, 18 Apr 2023
Die DA sal die voorstel verwerp dat Harrismith en omliggende plase van die Maluti-a-Phofung Munisipaliteit uitgesluit word, en by die Phumelela Munisipaliteit ingesluit word.
Die besluit is op 28 Maart 2023 in die Daily Sun gepubliseer. Dit voldoen nie aan die eise van die gemeenskap dat die hele groter Harrismith-gebied net so bly en sy eie munisipaliteit vorm nie.
In Maart 2022 het die DA 'n voorlegging aan die munisipale afbakeningsraad gedoen waarin voorgestel is dat al die wyke in die groter Harrismith-gebied as 'n onafhanklike munisipaliteit hersaamgestel word.
Die voorstel is nou deur die munisipale afbakeningsraad gepubliseer, en dit gaan moontlik beteken dat ‘n gedeelte van Harrismith, plase, en Intabazwe van die Maluti-a-Phofung Munsipaliteit geskei word, en dan onder die Phumelela Munisipaliteit sal val. Die voorstel sal die Harrismith-landdrosdistrik, die Harrismith-polisiëringsgebied en die Harrismith-distriksboere-unie verdeel, terwyl Harrismith ook van sy eie nywerheidsgebiede geskei sal word.
Die DA en die gemeenskap sal nie toelaat dat hierdie belaglike voorstel in werking gestel word nie, en sal voortgaan om te eis dat die groter Harrismith-gebied dieselfde bly, insluitend ten minste die huidige wyke 1, 4, 5, 6 en 22. Die DA sal sy verwerping van die huidige voorstel voor die sperdatum van 27 April indien.
