Central SA
Dit is tyd vir basaar!─── 09:21 Wed, 19 Apr 2023
Philippolis se NG kerk hou Saterdag 22 April 2023 om 10:00 ’n basaar by die gemeenskapsentrum oorkant dié historiese kerk.
“Die basaar is ’n hoogtepunt vir ons lidmate, asook vir die hele Philippolis waar ons bietjie bymekaar kan kom en kuier,” sê Stephan Meyer, kerkraadslid.
Die vleistafel spog weer met lamsvleis, skaapvleis, steaks, maalvleis, so maak seker jy kom vroeg.
Daar kan ook gesmul word aan die gebak, worsbroodjies, kerriesosaties en braaivleis.
Philippolis is vanjaar 200 jaar oud, en die kerk het ’n prominente rol in die geskiedenis gespeel. Die NG kerk is ’n bekende baken in die dorp.
Meyer sê hulle is nie net trots op die kerkgebou wat ’n nasionale gedenkwaardigheid is nie, maar ook op die orrel, wat nog elke Sondag bespeel word.
“Ons weet almal dat finansies maar bietjie druk, maar ons wil dankie sê aan die Here vir die manier wat Hy ons seën, vir die skenkings en die harde werk agter die skerms om die basaar moontlik te maak,” sê hy.
Hy nooi almal om Saterdag Philippolis se gasvryheid te kom beleef.
