On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Familie neem afskeid van seun (11) wat sterf ná ‘simpel val’

───   09:30 Wed, 19 Apr 2023

Familie neem afskeid van seun (11) wat sterf ná ‘simpel val’ | News Article

Familielede en vriende neem Donderdag (20/4) van Luka Strydom (11) van Yzerfontein afskeid nadat hy verlede week dood is ná wat sy ma, Eldré, as ‘n “simpel val” beskryf het.

Eldré (49) van Yzerfontein aan die Weskus sê op haar Facebook-bladsy dat sy troosdiens “om die elf jaar van sy lewe te vier”, by die Buffelsfontein-natuurreservaat plaasvind. Daar is gevra dat geen blomme of geskenke oorhandig word nie, maar dat bydraes vir ’n fonds om sport vir kinders in Yzerfontein en Darling te bevorder, verwelkom sal word.

Luka was ’n gr. 6-leerling van Darling College en lid van die Darling-sokkerklub.

Hy het Sondag 9 April ’n diep wond opgedoen toe hy by ’n verjaardagpartytjie op ’n hoop braaihout geval het terwyl hy en maatjies gespeel het. ’n Stuk hout het in sy rug gesteek en sy ma het hom hospitaal toe geneem. Hier is hy narkose toegedien sodat sy wond skoongemaak en toegewerk kon word. Komplikasies het egter ingetree en hy is die volgende dag oorlede, berig The South African.

Hy was ’n enigste kind.

“Dit is so ondenkbaar, ’n gesonde, elfjarige seuntjie. Dit is so onbenullig, ons het bloot ingegaan vir steke,” het Eldré aan Netwerk24 gesê.

“Ek het teen 23:00 saam met hom teater toe gegaan en sy voorkoppie gesoen. Dit sou net ’n halfuur duur. Ná ’n uur het ’n dokter uitgekom en gesê daar was komplikasies en ’n ‘insident’ onder narkose, wat insluit dat Luka wakker geword het in die teater. Sy hart het vir tien of 15 minute gaan staan.”

Hy is bygebring en na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas, maar sy is gewaarsku dat hy dalk reeds breinskade opgedoen het. Sy hart het by die Rooikruis-hospitaal weer gaan staan. Hy is weer bygebring, maar sy longe, brein en hart het toe al ernstige skade opgedoen. Om 12:04 het sy hart vir oulaas gaan staan.

Sy sê sy en Luka se pa, Rohan Strydom, asook haar lewensmaat, Deon van Zyl, is gebroke. Sy het Luka op 37-jarige ouderdom gehad nadat borskanker op 31 jaar by haar gediagnoseer is.

‘Hy was ’n absolute engel’

“Niemand het gedink ek sou ooit ’n kind hê nie. Hy was ’n absolute engel en met sy krulkop het hy soos een gelyk ook. Hy was so geliefd.”

Medelye het op Facebook ingestroom: “Onmoontlik om die lewe voor te stel sonder hierdie onvergeetlike klein wese,” skryf Adele du Plessis. “ Hoe pynlik sy afwesigheid, hoe dramaties verwoestend die omstandighede. Soveel liefde en meegevoel aan Eldré en Luka se familie. Ook die baie geliefdes wat so ’n belangrike rol speel in hierdie tye wat volg op hierdie hartseer hartseer hartseer verskynsel. Nooit, nooit, sal wat jy vir so baie beteken het, vergeet word nie! Lief jou Luka. Dis moeilik om selfs asem te haal...”

“Ons vier jou lewe, Luka Strydom,“ skryf Darling College. “Jy het baie mooi herinneringe agtergelaat. Ons gaan jou mis.”

“Gone too soon,” is Darling-sokkerklub se woorde. “Luka Strydom, jy sal gemis word deur almal by DFC, jy het diep spore in ons harte getrap.”

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.