Central SA
Vaalputs-pad 'nie geskik om kernafval te vervoer' – VIDEO─── 10:33 Wed, 19 Apr 2023

Die speaker van die Nama Khoi-munisipaliteit op Springbok kla oor gevaarlike kernafval wat na Vaalputs in die area vervoer word.
Die grondpaaie is soms ook onbegaanbaar en dit kan tot ongelukke en ontploffings lei as die kernafvaltrokke omslaan.
Volgens die DA in Namakwaland is die pad tussen Springbok en Vaalputs nie geskik om kernafval na dié terrein hier te vervoer nie.
Behalwe dat dit ’n onveilige grondpad is, word die kernafval in die nag en donkerte met trokke hierheen vervoer.
Volgens Rodney Kritzinger, die DA- speaker by die Nama Khoi-munisipaliteit op Springbok, is die pad eintlik net geskik vir vierwielaangedrewe voertuie wat boere gebruik om van of na plase in die area te beweeg.
Hulle ry gewoonlik deur die dag weens die veiligheidsrisiko wat die pad inhou.
Reeds sewe jaar gelede, in 2016, het die DA samesprekings gevoer met die nasionale ministerie van vervoer.
Toe is aangevoer dat internasionale kriteria oortree is om kernafval op so ’n gevaarlike pad te vervoer.
Weens druk van plaaslike gemeenskappe het die nasionale departement van vervoer toe onderneem om die pad op te gradeer, volgens Kritzinger, maar dit was nooit gedoen nie.
Intussen het die pad se toestand drasties versleg en kan kernafval van die trokke afval, of lek, en ’n humanitêre ramp veroorsaak, word nou gevrees.
Die afgelope jare word die kernafval in betonhouers vervoer vanaf Koeberg in die Wes-Kaap, na die afgeleë gebied in die Noord-Kaap.
Dit het plaaslike inwoners al ontstel en bekommerd gemaak oor ’n moontlike kernafvaltragedie wat kan plaasvind soos wat jare gelede by die Tsjernobil-kernkrag-aanleg in Rusland die geval was.
Kritzinger het verder gesê dat die DA al met die provinsiale kantoor van die Departement van Paaie en Openbare Werke in kontak was, maar sonder enige sukses.
Volgens hom argumenteer hierdie departement dat die lae verkeersvolume hier tans nie ’n opgradering regverdig nie.
Selfs oproepe na Coghsta om in te gryp het nie veel gehelp nie.
Die DA het intussen ook die Noord-Kaapse LUR vir Paaie en Openbare Werke gevra om die probleem aan te spreek. As dit ook nie help nie, sal die DA verplig wees om die aangeleentheid terug te verwys na die parlement, want die aangeleentheid is van nasionale belang, volgens Kritzinger.