Central SA
New York wink vir dramastudent van Bloemfontein─── ZENANDE MPAME 10:55 Wed, 19 Apr 2023
’n Dramastudent van Bloemfontein is op pad na New York ná haar sukses by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).
Alyssa van Reenen (20) is ’n oudleerling van die Eunice High School for Girls in Bloemfontein, en ’n derdejaarstudent by Act Cape Town.
Die International Model and Talent Convention (IMTA) is bekend vir modelle, akteurs, dansers, sangers, en liedjieskrywers van oor die wêreld heen. Sy wil haar vaardighede daar gaan slyp, terwyl sy in Junie vir ’n paar weke in New York is.
“Ek is baie opgewonde om na New York te gaan en tel die dae af op my foon,” sê sy.
Van Reenen was die jongste aktrise in die drama Mirre en Aalwyn, wat opgevoer is op ’n plaas buite Oudtshoorn. Die bekende aktrise Amalia Uys was ook deel van die rolverdeling.
“Dit was wonderlik om saam met die skrywer van die toneelstuk, Nicola Hanekom, te werk. Sy is briljant en wil altyd seker maak dat almal hul beste lewer.’”
Hanekom en haar man, Grant Swanby, regisseur van Mirre en Aalwyn, het haar gebel vir die rol en sy het dadelik ingestem. Sy was egter bekommerd, omdat sy nog nooit in Afrikaans toneel gespeel het nie. Swanby het haar gehelp sodat sy op haar gemak voor die kameras kon wees.
