On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kimberliete gewaarsku oor waterafsluiting

───   15:10 Wed, 26 Apr 2023

Kimberliete gewaarsku oor waterafsluiting | News Article
Thoko Riet, Sol Plaatje munisipale woordvoerder. FOTO: Verskaf

Kimberley gaan weer ’n watertekort van 4 tot 7 Mei ondervind wanneer die Sol Plaatje Munisipaliteit die watertoevoer gaan afsluit om herstelwerk op die grootmaatwatertoevoerpype te doen.

Dit sal die tweede keer in ’n jaar wees wat die munisipaliteit aan die pypleiding gaan werk.

Inwoners word gewaarsku om voorsiening hiervoor vir te maak.

Kimberley se water word by die Riverton-aanleg in die Vaalrivier onttrek waar dit gesuiwer word. Vandaar word dit met twee pypleidings van 600 mm en 965 mm in deursnit na die stad se opgaardamme gepomp. 

Die twee pypleidings ervaar gereelde waterlekke.

Die munispale woordvoerder, Thoko Riet, sê hulle wil die lekplekke in die pypleiding met spesiale toerusting opspoor en foutiewe kleppe vervang.

Die herstelwerkwerk kon nie met die vorige poging in November 2022 voltooi word nie weens die foutiewe kleppe.

“Die munisipaliteit het in Mei 2021 ’n watermeesterplan aan die Departement van Water en Sanitasie en die tesourie voorgelê om geld vir opknappingswerk te bekom. Die aansoek  is in Januarie 2023 goedgekeur. Die munisipaliteit sal meer as R2 miljard ontvang om die waternetwerk op te gradeer. Die grootskaalse werk sal in Julie vanjaar begin.

“Intussen moet ons lekplekke in die grootmaattoevoerpype opspoor, waarvoor die sogenaamde slimbaltegnologie gebruik word. Die foutiewe kleppe moet egter eers vervang word, vandaar die waterafsluiting. Ons gaan ook watermetertoetspenne op die pypleidings aanbring om waterverliese te meet.

“Gedurende die afsluitingstydperk gaan die pypleidings gedreineer word, herstelwerk gedoen word en die pypleidings en opgaardamme weer opgevul word.

“Die werk is die begin van ’n groot verbetering in die watergehalte en watertoevoer na die stad wat voorsiening vir toekomstige watervoorsiening maak.”

Riet versoek inwoners om voorbereid te wees.

“Ons sal oral in die stad watertenks plaas waar inwoners water kan gaan haal. Ons versoek mense om nie die tenks te beskadig nie. Ons sal dit gereeld volmaak.”

Die watertoevoer sou aanvanklik die komende naweek gedoen word, maar is tot Mei uitgestel vanweë die Absa Wildeklawer-sportbyeenkoms. Meer as 4 000 atlete, afrigters en organiseerders, asook duisende toeskouers word verwag. Gastehuise is volbespreek, en selfs verblyf in omliggende dorpe soos Jacobsdal, Barkly-Wes, Warrenton en Hopetown het skaars geword.  

OFM News/Charné Kemp

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.