On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse dwelmsmous sy sak vol geld kwyt ná hofbevel

───   09:53 Thu, 27 Apr 2023

Noord-Kaapse dwelmsmous sy sak vol geld kwyt ná hofbevel | News Article

‘n Vermeende dwelmhandelaar wat R100 300 kontant in ‘n sak by hom gehad het, het dié geld vir eers aan die staat verbeur nadat die Hooggeregshof in Kimberley ‘n bewaringsbevel aan die Valke toegestaan het om daarop beslag te lê.

Die geld is per abuis by Luyanda Nokhele (48) gevind nadat die polisie hom in 2020 by ‘n gewilde duimgooistaanplek opgemerk en ondervra het. Die vermoede bestaan dat die geld vir die aankoop van dwelms was.

Wie mag groot hoeveelhede kontant op hom dra, en hoeveel kontant mag ‘n persoon op hom hê,  is van die vrae wat gevra word nadat Nokhele die geld verbeur het wat drie jaar gelede op hom gevind is.

Die hooggeregshof in Kimberley het vandeesweek beslis dat die R100 300 in kontant nie aan Nokhele terugbesorg moet word nie.

Volgens Tebogo Thebe, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, is Nokhele in Augustus 2020 op die N7 buite Springbok deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde opgemerk waar hy besig was om te ryloop.

LEES OOK: Valke verwelkom vonnis vir dwelmsmous

Hulle het hom voorgekeer en die kontant in ‘n sak by hom gevind. Hulle het hom daaroor gepols en Nokhele het beweer dat hy ‘n diamant in Port Nolloth verkoop het.

Die polisie het daarna die ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad (Valke) in Springbok in kennis gestel.

Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat Nokhele op pad was na Kaapstad om glo dwelms te gaan koop, waarmee hy glo in Port Nolloth en ander diamantgebiede smous.

“Ná drie jaar het die hooggeregshof in Kimberley besluit om die bewaringsbevel aan die Valke toe te staan,” sê Thebe.

‘Hoeveel kontant mag jy dra?’

Intussen gons inwoners van Springbok oor die bewaringsbevel.

Paul Swartbooi, ‘n direkteur by ‘n diamantmyn by Buffelsbank in Namakwaland, wil weet hoeveel kontantgeld ‘n persoon op hom mag dra en wat met die geld gebeur wat deur wetstoepassers gekonfiskeer word.

Ander inwoners is ook in die war oor die kontantbedrag wat mens op ‘n gegewe oomblik in jou besit mag hê, en verwys na die Phala Phala-voorval waar miljoene rande se dollarnote in pres. Cyril Ramaphosa se huis gesteel is.

OFM-nuus/Isaac Cloete

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.