On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe lewe vir Karoo-orrel in Bloemfonteinse katedraal

───   12:16 Tue, 02 May 2023

Nuwe lewe vir Karoo-orrel in Bloemfonteinse katedraal | News Article
FOTO: Elsabé de Jager

’n Weeskind uit die Karoo het ’n woonplek in die Vrystaat gevind.

Vandat die Bloemfonteinse Katedraal in Augustus 2021 ’n pyporrel verwelkom het, geskenk deur die gewese Nuwekerk op Graaff Reinet, word met ’n restourasieproses gewoeker wat etlike jare kan duur.

Die NG Gemeente Nuwekerk het in 1927 van die Moedergemeente op Graaff-Reinet afgestig weens onenigheid oor veral die gebruik van Afrikaans in eredienste, maar in 2018 het die gemeentes verenig.

Die kerkgenootskap wat Nuwekerk se geboue oorgeneem het, het geen nut vir die ASJ Dekkerpyporrel van 1927 nie. Jan Elsenaar, eienaar van Protea Orrelbouers op Brandfort, berei die waardige ou dame nou voor op ’n nuwe lewe in Bloemfontein.

Sowat 2 000 komponente moet vervang word en baie van die 1 275 orrelpype moet herstel word.

Die restourasie- en installeringsproses van die orrel, wat geskik is vir koor- en gemeentebegeleiding, asook vir solo-uitvoerings, is ’n tydsame proses. Hoewel verskeie tegnieke gebruik word vir modernisering, is dit van uiterste belang dat die oorspronklike klank behoue bly.


’n Tweeledige geldinsameling is begin vir die herstelkoste van R1,25 miljoen. Gemeentelede word aangemoedig om ’n orrelpyp aan te neem, en skenkings van buite die katedraalgemeenskap word ook verwelkom. Vir meer inligting kontak Janet Killner van die gemeentekantoor.

Vir Elsenaar, wat sy eerste traporreltjie reeds op 12-jarige ouderdom gerestoureer het, bly die pyporrel die koning van alle instrumente. As een van net ’n handvol orrelbouers wat in Suid-Afrika oorgebly het, ontwerp hy slegs met die hand en nie met ’n rekenaar nie. 


Elsenaar speel dikwels self om vas te stel of die klank suiwer is.

Hy koop die hout vir die restourasie en maak die meeste nuwe komponente van die orrel. Slegs houtsoorte van die hoogste gehalte, sonder enige krake, word gebruik. 

Hy beskou die feit dat hy ’n orrelis is, as ’n groot voordeel. 

In die bou- of restourasieproses speel hy dikwels self om vas te stel of alles in orde en die klank suiwer is.

Die restourasie van die orrel bestaan uit drie fases, waarvan die eerste vroeg vanjaar voltooi is. Nadat die finale stemproses aan die einde van die derde fase afgehandel is, sal Bloemfontein saam met die katedraal kan juig oor die nuwe klank, maar ook ’n noot van nostalgie ervaar saam met die man wat so hard gewerk het hieraan.

OFM-nuus/Elsabe de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.