Central SA
'Plaag knaagdiere neem Kestell, Thlolong oor'─── 15:49 Tue, 02 May 2023
Rotte en muise begin oorneem by ondernemings en huise in Kestell en Thlolong. Die DA het die afgelope jaar al baie klagtes oor dié plaag knaagdiere ontvang.
Die Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit word hiervoor geblameer. Redes wat aangevoer word, sluit in die gebrek aan behoorlike vullisverwydering, onwettige storting en toegegroeide gebiede wat nooit skoongemaak word nie.
Die munisipaliteit is al verskeie kere hieroor genader, maar geen reaksie is nog ontvang nie.
Die DA het gesê die onwettige storting is 'n algemene verskynsel in Kestell, omdat daar geen amptelike stortings- of vullisterreine beskikbaar is nie.
Die probleem word vererger deur gras in oop ruimtes wat nie gesny word nie. Van die inwoners het gesê die rotte is so groot soos eekhorings.
Een inwoner het gesê nadat hulle gif uitgesit het, het hulle baie dooie rotte in hul tuin gekry.
Die knaagdiere rig groot skade by huise en die munisipale infrastruktuur aan. Hulle is geneig om aan elektriese bedrading te knaag, wat tot elektriese brande kan lei.

Die knaagdierplaag word vererger deur gras in oop ruimtes wat nie gesny word nie.
Die grootste bekommernis is die oordraagbare siektes soos leptospirose, hantavirus- pulmonêre sindroom en rotbytkoors wat deur hul urine en ontlasting oorgedra word. Dit kan ook asma by kinders veroorsaak.
Die DA bly daartoe verbind om 'n veilige omgewing vir alle inwoners van Kestell en Thlolong te verseker en sal ook die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit betrek om te help om die plaag te bestry.
DA-mediaverklaring
