On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Vyf Zimbabwiërs sterf in ongeluk buite Steinkopf

───   11:52 Wed, 03 May 2023

Vyf Zimbabwiërs sterf in ongeluk buite Steinkopf | News Article

In ’n ongeluk Sondagaand is vyf Zimbabwiërs op die pad tussen Steinkopf en Port Nolloth in die Noord-Kaap dood.

Die polisie sê die vier volwassenes en ’n baba is op die toneel dood nadat die bestuurder van die dubbelkajuitbakkie vermoedelik beheer oor die voertuig verloor het. Die bestuurder het vroeër drie rylopers opgelaai wat ook van Zimbabwe is.

"Weens die impak van die ongeluk het die bakkie aan die brand geslaan en een van die rylopers het doodgebrand," sê Brian Sithole. Sy broer Shepherd Matongo is een van die oorledenes.

Die bakkie het aan die brand geslaan weens die impak van die ongeluk.

"Die vermoede bestaan dat die bestuurder sy konsentrasie verloor het. Die bakkie het teen die padrelings gebots en daaroor getuimel," het Sithole aan OFM-nuus gesê.

Die ongeluk het net voor ’n draai in die Anenous-pas (R382) buite Steinkopf, gebeur, sê Mark Cloete van Port Nolloth.

Cloete, ’n bekende in die diamantbedryf in Port Nolloth, het van die familie van die oorledenes ná die ongeluk ondersteun.

Hy sê baie mense is al by dié gedeelte van die pad in ongelukke dood.  

Drie mense het die ongeluk oorleef.

Die twee mans en ’n vrou wat in die ongeluk beseer is, is in die hospitaal in Springbok opgeneem. Cloete en hul familie kon hulle eers Dinsdag besoek.  

Die beseerdes het aan OFM-nuus vertel dat mistigheid en spoed ook dalk tot die ongeluk kon gelei het.   

Sithole sê weens ’n tekort aan forensiese personeel in Springbok is dit onseker wanneer die oorledenes se oorskot na Zimbabwe geneem kan word.

*Die Zimbabwiërs was betrokke by diamantdelwery in Namakwaland. Cloete help delwers met die verkryging van finansiering vir diamantkonsessies.

OFM-nuus/Isaac Cloete

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.