Central SA
LUR sal Upington-skool besoek ná brand─── CHARNÉ KEMP 14:02 Thu, 04 May 2023
Sestien klaskamers van die Hoërskool SC Kearns in Upington is in ’n brand beskadig.
Die Noord-Kaapse LUR en amptenare van die Departement van Onderwys gaan Vrydag die Hoërskool SC Kearns in Louisvaleweg in Upington besoek nadat ‘n brand Donderdagoggend daar uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
Die departementele woordvoerder, Geoffrey van der Merwe, sê die polisie is besig met ’n ondersoek.
“Die linkerkantste vleuel waar daar 16 klaskamers is, het afgebrand. Ons is dank verskuldig aan die munisipale brandweer vir hul vinnige optrede om die brand te blus en te voorkom dat dit na die res van die kompleks versprei,” het Van der Merwe gesê.
Die skool het 1 200 leerders waarvan 175 in gr. 12 is.
“Die skool sal tot Maandag 8 Mei gesluit wees. Die gebrande gedeelte is om veiligheidsredes afgesper. Ons het die distrikskantoor gevra om skoolbedrywighede op ‘n rotasiebasis te plaas om al die grade te akkommodeer. Intussen oorweeg ons tydelike oplossings om skoolbedrywighede voort te sit.
“Ons maak spesiale voorsiening vir die gr.12-leerlinge sodat hulle voltyds kan skoolgaan.”
Die LUR Zolile Monakali sal die afvaardiging na die skool lei om die omvang van die skade te bepaal.
“Ons het ook ons interne afdeling wat sielkundige en maatskaplike hulpverlening doen, gevra om die onderwysers en leerders by te staan.”
