Central SA
Gebreekte toevoerpype veroorsaak gevaarlike gate in Upington─── CHARNÉ KEMP 14:13 Thu, 04 May 2023
Slaggate wat veroorsaak word deur lekkende pype wat onderdeur paaie in Upington loop en waarin twee voertuie die afgelope maand op verskillende plekke vasgeval het, bekommer die VF Plus.
Die VF Plus-raadslid, Hennie Roux, sê die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit het skynbaar nie die finansiële vermoë om gereeld instandhouding te doen nie.
“Ons paaie lyk asof daar landmyne afgegaan het soos lekkende pype gedurig herstel word. Schroederstraat, wat ’n baie besige pad is, is een daarvan.”
In een voorval het ’n vragmotor in ’n gat voor die Hoërskool Duineveld beland, en ’n bakkie het in ’n slaggat naby die hoek van Lutzstraat en Dr Nelson Mandelarylaan beland.
Die slaggate was nie afgesper om motoriste te waarsku nie, sê hy.
“Dit blyk die motoriste wat in die gate beland het, het gedink hulle ry deur waterpoele. Dit is onmoontlik om die slaggat onder die poele water te sien. Die een in Lutzstraat het ’n halwe dag geneem om te herstel, waartydens die dorp geen watertoevoer gehad het nie.”

Die vragmotor het in ’n slaggat voor die Hoërskool Duineveld in Upington beland. FOTO: Verskaf
Die motoriste is kort ná die voorvalle deur behulpsame sakemanne en inwoners uit hul voertuie gehelp.
“Dit twee voorvalle het in minder as ‘n maand gebeur. Ons is werklik bekommerd oor die agterstand in instandhouding en die stand van die infrastruktuur. Ons sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas om die instandhoudingswerk te versnel.”
Direkteur van die munisipale ingenieursdienste, Padwald Jonker, sê motoriste moet bedag wees op borrelende water op padoppervlaktes, wat dui op gebreekte watertoevoerpype. Motoriste moenie ry waar water uit die pad borrel nie.
“Dit is tekenend van grootmaattoevoerpype met groot drukking wat die padinfrastruktuur beskadig. In die betrokke gevalle het die water nog uitgeborrel toe die motoriste daardeur ry. Dit is nie slaggate wat net so gelaat is nie, dit was pype wat gebreek is.”
Die motoriste kan die munisipaliteit se bateafdeling nader om eise in te dien vir die vergoeding van die skade aan hul voertuie.
