Central SA
Polisie lê beslag op R5,4 miljoen se drank in Vryburg─── 11:00 Sat, 06 May 2023
’n Verdagte (38), wat R5,4 miljoen se drank onwettiglik in sy besit gehad het, het in die Vryburg-landdroshof in Noordwes verskyn weens die oortreding van Artikel 2(1) van die Wet op Vervalste Goedere, 1997 (37 van 1997). Hy is steeds in aanhouding.
Polisiewoordvoerder Aafje Botma sê die beskuldigde is op 3 Mei 2023 in Vryburg deur lede van die K9-eenheid in hegtenis geneem. Hulle het saam met beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad (DPCI) gewerk.
“Die span het met 'n lasbrief die geïdentifiseerde pakhuis deurgesoek en op drankprodukte beslag gelê wat vir uitvoer bestem was. Dit is egter daar gestoor om op die Suid-Afrikaanse mark teen 'n verlaagde prys verkoop te word. ’n Groot besending van verskillende soorte drank is in die pakhuis gevind.”
Botma het gesê by verdere ondersoek is 15 elektriese omsetters en 'n bedienernetwerk gevind wat vir bitcoin-verhandeling gebruik word. Daar is ook bepaal dat van die oorspronklike etikette op die drankbottels met vervalste etikette vervang is.
Die span het op 828 x 750ml en 24 x 1-liter bottels Richelieu-brandewyn beslag gelê wat na bewering tydens ’n sakeroof in Germiston, Gauteng, gesteel is. Daar is op altesaam R5,4 miljoen se drank beslag gelê.
Botma sê die DPCI gaan voort om die saak te ondersoek.
Die verdagte sal na verwagting weer op Maandag 8 Mei in die hof verskyn.
Luitenant-generaal Sello Kwena, Noordwes se Provinsiale Polisiekommissaris, het alle amptenare met hul sukses gelukgewens.
