On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde oudpredikant van Noordwes oorlede ná lang siekte

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:08 Sun, 07 May 2023

Geliefde oudpredikant van Noordwes oorlede ná lang siekte | News Article
Ds. Kobus en Drien Venter by hul kinders: Dawie Venter (agter), Albertus (voor) en Marna Minnaar.

“Ons het nie woorde nie, maar ons bid dat die Here julle sal vertroos en versterk in hierdie moeilike en hartseer tyd,” is een van dosyne troosboodskappe ná die afsterwe op Vryburg van ’n Dopperpredikant wat langer as twee dekades daar gedien het.

Ds. Kobus Venter (76), wie se laaste gemeente die Gereformeerde Kerk Vryburg van 1984 tot sy emeritaat in 2007 as, is Vrydag (5/5) oorlede nadat hy lank siek was. 

Lidmate onthou hom ook nog van sy tyd in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se gemeentes Venterstad in Noordoos-Kaapland van 1972 tot 1977 en daarna in Sishen in Noord-Kaapland tot 1984.


Terwyl ds. Venter sowat 35 jaar die vertrooster van sy kudde was, word sy familie nou in hierdie hartseer tyd vertroos. Onder al die boodskappe is selfs een van ’n paartjie wat hy 53 jaar gelede in die huwelik bevestig het.

’Sy geliefdes was by hom toe hy oorlede is’

’n Broerskind, ds. Lourens Venter van GK Centurion, sê ds. Venter het saam met sy vrou, Drien, en drie kinders nie slegs diep spore in die bediening getrap nie, maar ook in al die gemeenskappe waarin hulle gewoon het.

Sy geliefdes was by hom in die versorgingseenheid op Vryburg toe hy oorlede is. Sy broerskind sal die begrafnisdiens Donderdag (11/5) om 11:00 uit GK Vryburg waarneem. 

Dr. Wymie du Plessis, hoof van die GKSA se Admin. Buro en iemand wat al dekades lank soos ’n moeder vir Dopperpredikante is, onthou ds. Kobus as ’n ernstige Woordverkondiger.

Ds. Kobus en Drien Venter sou hul 53ste huweliksherdening op 5 Julie 2023 gevier het.

Hannes Noëth, direkteur van die vakbond Solidariteit se Helpende Hand, bring hulde aan die man wat. volgens hom, nie net in die bediening nie, maar ook in die onderwys ’n groot verskil gemaak het.

Noëth, wat die bediening in 2017 verlaat het ter wille van ’n nuwe roeping in die gemeenskap, se pad het die eerste keer as seuntjie met ds. Venter s’n gekruis.

Hy sal die vriendelike predikant, wat so ywerig gehelp het met die bou van die kerkgebou op Kathu in die vroeë tagtigerjare nadat die gemeente van Sishen af verhuis het, nooit vergeet nie. Hulle paaie het jare daarna weer gekruis toe ds. Venter teenwoordig was toe Noëth as proponent bevestig is in sy eerste gemeente, GK Wolmaransstad. Hulle was buurpredikante tot Noëth in 2006 na Naboomspruit beroep is.

Ds. Kosbus Venter omstreeks 1975 toe dié skets van hom in die Gereformeerde Kerk Venterstad se eeufeesgedenkboek verskyn het.

• Jacobus Daniël Venter is op 11 November 1946 op Brits in die destydse Transvaal gebore, volgens die GK Venterstad se eeufeesgedenkboek van 1975. Van dié rustige plattelandse omgewing verhuis die gesin in 1957 na Randfontein. Aan die snelontwikkelende Wes-Rand ontvang hy sy hoërskoolopleiding en matrikuleer in1964 aan die Randfonteinse Hoërskool.

Die jaar daarna skryf hy in as eerstejaar vir die B.A.- propedeutiese studie aan die PU vir CHO. Sy B.A.-graad behaal hy in 1967 met Sielkunde en Wysbegeerte as hoofvakke. Hy het veral in pastorale sielkunde belanggestel. Aan die einde van 1971 behaal hy die Th.B.-graad.

Ds. Kobus en Drien Venter was predikantspaar van die Gereformeerde kerk op haar geboortedorp, Vyrburg, van 1984 tot hy sy emeritaat in 2007 aanvaar het, waarna hulle daar aangebly het.

Op sportgebied het hy sy staal getoon en draf uit vir die PUK se eerste rugbyspan. As o.19 het hy reeds die provinsie verteenwoordig.

Op 5 Julie 1969 tree hy in die huwelik met Hendrina Magdalena (Drien) Prins van Vryburg. Twee kinders is uit die huwelik gebore: Dawie, Marna en Albertus.

Teologiese kandidaat J.D. Venter is op 23 November 1971 beroepbaar gestel deur die GKSA se Partikuliere Sinode Wes-Transvaal. Spoedig daarna aanvaar hy die beroep na die Gereformeerde Kerk Venterstad, waar hy op 5 Februarie 1972 in die amp bevestig word.

 Van 1977 tot 1984 bedien hy Sishen en daarna tot hy sy emeritaat in 2007 aanvaar, is hy sowat 23 jaar lank predikant op sy vrou se geboortedorp, Vryburg.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.