On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Prof. Theo Venter draai nie doekies om oor sy kanker nie

───   13:36 Sun, 07 May 2023

Prof. Theo Venter draai nie doekies om oor sy kanker nie | News Article
Prof. Theo Venter glo sy prostaatkanker sal suksesvol behandel kan word.

’n Gesiene politieke ontleder sê hy maak nie ’n geheim van sy kankerdiagnose nie.

“Ek wil graag vir mense vertel wat ek beleef, hoe ek dit beleef en wat aangaan. Selfs ook van die onsekerheid waarmee dit gepaard gaan.”

Só sê prof. Theo Venter (67), by wie prostaatkanker onlangs gediagnoseer is. Venter is sedert 1988 bekend vir sy politieke kommentaar in die media. Hy is sedert verlede jaar verbonde aan die Universiteit van Johannesburg as politieke ontleder nadat hy lank by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom was.


Venter het die afgelope drie weke ’n reeks toetse en ondersoeke ondergaan. Sy geneesheer was bekommerd oor ’n tendens in die toetse wat elke keer ’n lae PSH-telling opgelewer het. Die PSH is ’n prostaatspesifieke antigeen en neem toe wanneer kanker teenwoordig is.

“Om alles geheimsinnig te hou dra nie by tot mense se beter begrip daarvan nie,” sê Venter, wat wel ’n bietjie geskok was oor die diagnose. Daar was geen gevaarligte vooraf nie en hy het dit allermins verwag.

‘ ’n Mens moet maar vrede maak met die situasie’

Hy meen enige kankerdiagnose, watter soort dit ook al is, sal sekerlik ’n mens se lewensuitkyk verander. “Jy dink aan wat nog moet gebeur of wat nog kan gebeur. Ook aan wat ek anders kon gedoen het.”

Hy glo egter sekere goed is deel van ’n mens se genetiese samestelling en dus onafwendbaar. ’n Mens moet maar vrede maak met die situasie. Daarom was sy ingesteldheid ook: Hy het kanker tot dit anders bewys kan word, pleks dat hy gedink het hy het nié kanker nie. “So, ek was sielkundig voorbereid.”


Venter sê nog ’n troos is dat prostaatkanker baie suksesvol behandel kan word. “Daar is soveel mense wat my kontak om hulle suksesstories met my te deel.” Dit is ook hoekom hy sý storie deel.

‘Gelukkig is die kanker baie vroeg opgespoor’

“Alle mans, veral oor die ouderdom van 60, moet gereeld toetse laat doen,” maan hy.

Die volgende stap is ’n robotiese prostatektomie by die Urologiehospitaal in Pretoria einde Mei.

“Gelukkig is die kanker baie vroeg opgespoor. Ek is doodseker dat ek hieruit gaan kom met meer inligting as wat ek hier ingegaan het.”

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.