On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Uitstel van herstelwerk in Kimberley verdag

───   CHARNÉ KEMP 08:55 Wed, 10 May 2023

Uitstel van herstelwerk in Kimberley verdag | News Article

Onweerswolke dreig oor die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit te midde van gerugte dat die ANC vir Tapelo Matlala, stadsbestuurder, wil uitskop omdat hy volgens opposisiepartye die “regte stappe” wil doen om die waterinfrastruktuur op te knap.

Verlede week se skielike raadsbesluit om Matlala se herstelprojek op grootmaatwatertoevoerpype in Kimberley uit te stel, kom glo op politiekery en magspel neer.

Die herstelwerk om lekplekke te soek en foutiewe kleppe te vervang sou verlede week gedoen word. Die beplanning hiervoor kom reeds maande.

Opposisiepartye meen die ANC het “weer eens sy mag misbruik.”

'Raadslede stem soos hulle aangesê word'

Die VF Plus-raadslid en sweep, Kobus van den Berg, sê die ANC het hul “meerderheid misbruik en die besluit deurgedruk. Ons debatteer en verduidelik vergeefs dat die herstelwerk gedoen moet word. Die raadslede stem soos hulle aangesê word en dit is die rede vir die ANC se swak leierskap.

“Ons het daarteen gestem dat die herstelwerk uitgestel word. Ons meen Matlala is bevoeg om die projek deur te voer. Ek vermoed die ANC wil nie hê hy moet presteer nie. Die ANC het aangevoer dat dit nie gedoen kan word in die afwesigheid van ’n direkteur van infrastruktuur nie.“

Aantygings van nepotisme

Die waarnemende direkteur van infrastruktuur, Pethole Sitole, en nog ’n persoon is geskors weens aantygings van nepotisme. Die bewering is dat hy, as bestuurder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, ’n ongekwalifiseerde persoon in die toerismeafdeling aangestel het.

MyNorthernCape TV media het ’n ongeverifieerde opname van Sithole se tugverhoor versprei waarin hy na bewering antwoord op die beweringe.

Sithole, wat nie ’n ingenieurskwalifikasie het nie, is vroeër ten spyte van hewige teenkanting van opposisiepartye as die waarnemende direkteur van infrastruktuur deur die raad aangestel. Die opposisiepartye het by dié onstuimige raadsvergadering uitgestap terwyl die ANC sy aanstelling deurgedruk het ten koste van ’n ander kandidaat wat ’n ingenieurskwalifikasie het.

Die opposisie het daarop gesinspeel dat die meer as R2 miljard wat die regering beskikbaar gaan stel vir infrastruktuurprojekte, misbruik kan word.

Raadslede voel spanning aan teenoor Matlala

Sekere raadslede sê hulle voel die spanning aan tussen Sithole en die ANC teenoor Matlala.


Die DA-raadslid Ockert Fourie sê die uitstel van herstelwerk het geldelike implikasies op plaaslike ondernemings en inwoners. “Mense het voorsiening gemaak vir bykomende water, moontlik afsprake of besprekings gekanselleer, of selfs weggegaan.

“Volgens die stadsbestuurder was hulle gereed vir die herstelwerk. Die munisipaliteit het moontlik verkwistende en vrugtelose uitgawes aangegaan vir verblyf en kos vir die tegnici wat sou werk. Daar is geen geldige regverdiging vir dié uitstel ter elfder uur nie.”

Die DA wil weet watter finansiële verliese ondernemings, inwoners en die munisipaliteit gely het.

“Ons wil ook weet hoe die uitstel die tydskedule en impak op toekomstige befondsing vir infrastruktuurverwante projekte beïnvloed. Die party sal gereeld aandring op verdere inligting oor die geherskeduleerde herstelwerk.”

'Sake lyk donker as hulle die stadsbestuurder wil uitskop'

Tumelo Mosikare, projekbestuurder by die Sol Plaatje Belastingbetalersunie, sê hy hoor sterk gerugte dat die ANC die stadsbestuurder wil uitskop.

“Die werkers ondersteun hom, want hy vat geen nonsens nie. Hulle bring positiewe verandering. Hy wil iets daadwerkliks doen om die 65%-verlies aan water weens lekplekke op te los.

“ ’n Mens sou dink dat die politici besluite sal neem wat in belang van die mense is wat hulle verkies het.  Te midde van werkloosheid en armoede bly daar net misdaad, depressie en dwelms oor vir die jeug. Die raad het ’n skoon bladsy, die burgemeester kan ’n nalatenskap laat as die jongste persoon wat die stad reggeruk het. Ek hoop die gerugte is onwaar dat die burgemeester die stadsbestuurder ’n paar maande gelede wou skors.

“Sake lyk donker as hulle die stadsbestuurder wil uitskop.”

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.