Central SA
75 senior regeringsamptenare in Noord-Kaap het nie kwalifikasies─── 06:00 Thu, 11 May 2023
Slegs die Departement van Omgewingsake en Natuurbewaring se amptenare in die Noord-Kaap het die nodige kwalifikasies vir hul onderskeie poste.
Die waarnemende Minister van Openbare Ondernemings en Administrasie, Thulas Nxesi, het aan die Nasionale Vergadering gesê dat 75 senior regeringsamptenare in die Noord-Kaap nie oor die nodige kwalifikasies vir hul poste beskik nie.
Nxesi sê in die kantoor van die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Abraham Vosloo, is tien van die bestuurders sonder kwalifikasies, by die Departement van Onderwys en in die Departement van Gesondheid is daar by albei ook tien.
Die Departement van Openbare Werke het agt ongekwalifiseerde senior bestuurders gevolg deur sewe in die kantoor van Mase Manopole, LUR vir Landbou, Grondsake en Landelike Ontwikkeling, en sewe in Premier Zamani Saul se kantoor.
Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, asook Veiligheid en Skakeling, het elk ses ongekwalifiseerde amptenare en daar is vyf in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
In die Departement van Samewerkende Regering, onder leiding van die LUR Bentley Vass se kantoor, asook die Provinsiale Tesourie, is daar drie amptenare in albei wat nie die nodige kwalifkasies vir senior poste het nie.
Slegs die Departement van Omgewingsake en Natuurbewaring se amptenare beskik oor die nodige kwalifikasies vir hul onderskeie poste.
Die woordvoerder van die Provinsiale Regering, Monwabisi Nkompela, sê die situasie het intussen verander en daar sal later hieroor kommentaar gelewer word.
