Central SA
Tiener bly in aanhouding vir poging tot moord─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:43 Thu, 11 May 2023
'n Seun van Bultfontein in die Vrystaat, wat gister in die hof verskyn het op ’n aanklag van poging tot moord op ’n ander seun, sal in polisie-aanhouding bly totdat reëlings getref kan word sodat hy onder die toesig van ’n voog vrygelaat kan word.
‘n Woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, Stephen Thakeng, sê die voorval het Dinsdag 9 Mei omstreeks 22:15 plaasgevind. Die verdagte (15) het na bewering die slagoffer (14) by sy huis in die Khotha-seksie van Phahameng in Bultfontein gaan haal en hom glo na die begraafplaas in Diamantstraat gedwing.
Hier is hy na bewering verskeie kere met ’n mes gesteek. Die slagoffer het wonde aan sy rug, hande, bors en nek opgedoen.
Hy kon daarin slaag om te ontsnap en het by ’n nabygeleë huis hulp gaan soek, waarna hy in die hospitaal opgeneem is vir behandeling.
“Die polisie het onmiddellik op die voorval gereageer. Die verdagte is binne enkele ure opgespoor en in hegtenis geneem op ’n klag van poging tot moord. Beslag is op ’n mes gelê wat vermoedelik in die aanval gebruik is,” sê Thakeng.
Die tiener het Woensdag in die Bultfontein-landdroshof verskyn. Volgens Thakeng sal hy in polisieaanhouding bly totdat reëlings met sy voog getref kan word om hom onder toesig vry te laat terwyl die ondersoek na die saak voortduur.
