Central SA
Hulde aan dié Kestell-kind met sy kar en caritas - VIDEO─── 11:59 Thu, 11 May 2023

Die afgelope week was gevul met herinneringe, staaltjies en respek vir hierdie merkwaardige “Fietas”, soos oom Gerald Erickson altyd laggend na homself verwys het.
Oom Gerald Erickson, langslewende gewese inwoner van die Kestell-kinderhuis in Kimberley, is onlangs oorlede. Hy was 95 jaar oud.
Die voorstede Pageview en Vrededorp, waar hy gebore is, is destyds Fietas genoem na aanleiding van al die Indiese kleremakers van 14de Straat, Vrededorp. Dit was ’n vrolike, kosmopolitiese gemeenskap, vol oorvol winkels met voorraad wat selfs oral op die sypaadjies uitgepak was.
In 1932, op vierjarige ouderdom, word oom Gerald na die Kestell-kinderhuis van die NG kerk gestuur. Elf jaar later kry hy die geleentheid om na ’n ambagskool te gaan. Jare lank werk hy as enjinskoonmaker, laaimeester en stoker.
Ds. Mossie Mostert, afgetrede NG predikant, onthou oom Gerald as ’n barmhartige Samaritaan wat altyd aan andere wou gee, en ook help om hul inkomste aan te vul.
In 2002 lei oom Gerald se pad terug op sy kinderspore na die sinodale sentrum van die NG kerk, intussen gebou op die terrein waar die Kestell-kinderhuis destyds was. Daar vind hy jare lank herberg in die Oornaghuis, tot met sy opname twee jaar gelede in Belgrave Lodge, ’n versorgingsoord in Kimberley.
Hy het voluit geleef. Dit kan ’n mens hoor in die kostelike staaltjies oor hom. Hy het, sedert hy begin werk het, maandeliks tien sjielings gespaar. Ná sy aftrede was hy méér as gelukkig met sy pensioen en die rente op sy sjielings.
“Ek kry pensioen en rente … dit is genoeg, oorgenoeg vir my en die voëls,” het hy gesê. Tydens sy verblyf in die Oornaghuis het hy daagliks Checkers toe gestap met sy “kar”, soos hy sy loopraam genoem het. Daar het hy brood vir die voëls gekoop. Die twee koepons wat hy elke maand van Coca-Cola ontvang, het hy aan ander gegee.
Vir hierdie aanhanger van Bing Crosby, Fred Astaire en veral Doris Day was die lewe ’n geskenk, ’n heilige reis. Met sy kar en caritas (deernis vir ander) laat hy spore van omgee agter, diep genoeg vir ons almal om te volg.