Central SA
Rowers vlug met groot buit van Klerksdorpse juwelier─── KEKELETSO MOSEBETSI 16:50 Thu, 11 May 2023
Drie gewapende rowers het Donderdagmiddag (11/5) op ’n juwelierswinkel in Klerksdorp toegeslaan en met ’n onbekende hoeveelheid juwele weggekom.
Die drie verdagtes het die winkel in die PnP Hypermarket-sentrum in die voorstad Wilkoppies omstreeks halfdrie beroof, sê Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
’n Karwag het aan Klerksdorp Record gesê sy het gehoor mense op die parkeerterrein sê die rowers is besig om die winkel te beroof en dat skote geklap het. “Toe het daar ’n vroutjie gestaan wat inmekaargesak het. Toe gaan ek soontoe om te hoor of sy oukei is.”
Die volgende oomblik het die rowers by die sentrum uitgestorm en weggejaag in ’n wit BMW met GP-nommerplate nadat hulle nog skote geskiet het. Volgens ooggetuies het hulle koers gekies in die dorp se rigting.
‘Mense was baie geskok en in ongeloof’
Solomé Kotzé, Klerksdorp Record-redakteur, sê sy was toevallig op die toneel om inkopies te doen. Sy het verneem dat een van die skote ’n veiligheidswag in die been getref het, maar hy is net lig beseer.
“Mense was baie geskok en in ongeloof dat so iets op 'n gewone dag in die week in een van Klerkdorp se besigste sentrums kon gebeur,” sê Kotzé. “Ek het op beeldmateriaal van die kringtelevisie gesien die rowers het met ’n groot klomp goed weggekom.”
Die toneel is later afgesper en die Hypermarket het tydelik gesluit.
