Central SA
‘Polisie faal ons kinders’ – Action Society─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:16 Fri, 12 May 2023
’n Opname deur die burgerregte-organisasie Action Society toon dat 97% van ouers voel dit is nie veilig vir hul kinders om in ’n park te speel of alleen op ’n fiets te ry nie. Verder vrees 93% dat hul kinders ontvoer kan word.
Die organisasie sê die polisie faal om miljoene kinders in Suid-Afrika te beskerm. “Kinders is maklike teikens vir misdadigers en loop 'n groter risiko vir geweld, mishandeling en uitbuiting,” sê Kaylynn Palm, woordvoerder van Action Society.
Die opname, getiteld “Is jou kinders veilig in Suid-Afrika?” wou ouers se vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens toets.
Op ’n vraag of ouers die polisie, die buurtwag of hul veiligheidsmaatskappy sal kontak as ’n kind in gevaar verkeer, het slegs 6% van respondente gesê hulle sal die polisie bel, teenoor 41% wat die buurtwag sal bel en 53% wat hul veiligheidsmaatskappy sal bel.
“Net 13% van Suid-Afrikaanse ouers leer hul kinders dat hulle die polisie kan vertrou.
"Dit moet 'n wekroep wees vir die Minister van Polisie, Bheki Cele," sê Palm. “As slegs 6% van 'n land se ouers hul kinders se veiligheid sou toevertrou aan die liggaam wat veronderstel is om die primêre beskermer te wees, is daar iets ernstigs fout.”
Palm sê misdaadstatistiek toon dat byna 1 200 kinders die afgelope jaar vermoor is en nog 7 500 ernstig aangerand is.
OFM Nuus
