Central SA
Jong rugbyspeler van Prieska mik na Statebond-jeugspele─── CHARNÉ KEMP 15:14 Fri, 12 May 2023

’n Matriekleerling van die Hoërskool Prieska se rugbytalent het hom pas ’n plek besorg in die oefengroep vir die nasionale 0.18-sewesrugbyspan, wat in Augustus aan die Statebondjeugspele in Trinidad en Tobago meeding.
Dwayne Lubbe (18) en nog ’n begaafde rugbyspeler, Valentino Lenge (17), van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, is al Noord-Kapenaars wat vir die proewe genooi is.
Lubbe, wat nes Lenge ’n kranige 100-meter-naelloper is, neem vanjaar ’n tweede keer aan die Cravenweek deel. Hy het ook al vir die Griekwas-hoërskolespan uitgedraf.
‘Dit is ’n ongelooflike geleentheid’
“Ek het verlede jaar by die Hoërskool Monument in Krugersdorp juis vir Griekwas rugby gespeel, waar ’n keurder my raakgesien het,” sê Lubbe. “Hy het toe die skoolhoof gebel.
“Dit was ’n baie lekker gevoel om te hoor ek kan dalk vir die nasionale span speel. Dit is ’n ongelooflike geleentheid in my rugbyloopbaan, ’n voorreg, hoewel ook ’n skok.”
Hy speel al rugby vandat hy nege jaar oud is. “Ek is gek oor die sportsoort.” Sy familie ondersteun hom so al wat hulle kan.
Lubbe wil eendag radiologie studeer. Lewenswetenskappe is sy gunstelingvak op skool.
Leon Victor, skoolhoof van die Hoërskool Diamantveld, Valentino Lenge wat deel is van die oefengroep vir die nasionale 0.18- sewesrugbyspan wat in Augustus aan die Statebondjeugspele in Trinidad en Tobago gaan deelneem, en Leon Karemaker, rugbyhoof van die skool. Foto: Facebook/HS Diamantveld
Volgens Derek Zeelie, skoolhoof van die Hoërskool Prieska, is Lubbe ’n beskeie seun met sterk Christelike waardes. “ ’n Mens kan dit sien in die wyse waarop hy met ander leerlinge omgaan, hy is ’n inspirasie. Hy doen alles met oorgawe.
“Ons het fantastiese sporttalent op die platteland. Ons is geweldig trots op hom. Hy werk hard vir alles wat hy bereik en vaar akademies ook baie goed.”
‘Hy is ’n stillerige man wat baie gefokus is’
Hy sê Lubbe kan in enige posisie op die veld speel, hy sal goed vaar. “Dwayne is ’n totale speler met ongelooflike vaardighede. Hoewel hy nie baie lank is nie, speel hy sy hart uit. Hy het ’n mooi toekoms wat voorlê.”
’n Trotse Leon Victor, skoolhoof van die Hoërskool Diamantveld, sê Lenge het spoed, plofkrag en balvaardigheid op die veld. “Hy is ’n stillerige man wat baie gefokus is op sy atletiek en rugby. Hy wil sukses bereik en werk hard daarvoor.”
Lenge sê hy was oorweldig toe hy die nuus kry dat hy deel van die oefengroep is. “Ek is baie opgewonde om aan die oefenkamp deel te neem.”