On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley-werkers staak oor arbeidsforum

───   CHARNÉ KEMP 14:25 Tue, 16 May 2023

Kimberley-werkers staak oor arbeidsforum | News Article
Munisipale werkers het vroegdag opgeruk na die burgersentrum in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Lede van die munisipale vakbond Samwu en ander werkers van die Sol Plaatje Munisipaliteit het Dinsdagoggend na die burgersentrum in Kimberley opgeruk en weier om te werk.

Die polisie se eenheid vir openbare orde het ook later opgedaag om orde te handhaaf.

Die werkers eis dat Sol Plaatje tweemaandelikse vergaderings van die plaaslike arbeidsforum hou. Dit het glo in Oktober laas byeengekom.

Totdat die vergadering nie plaasvind nie, sal geen werk gedoen word deur die meer as 1 100 vakbondlede nie.

Die vonk in die kruitvat was die raadsbesluit verlede week om die  waarnemende direkteur van infrastruktuur, Pethole Sithole, se skorsing op te hef. Hy is deur die stadsbestuurder, Tapelo Matlala, geskors weens beweringe van nepotisme.

’Die aanstelling het te make met trogvreters’

Hy het na bewering as bestuurder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling iemand sonder die nodige kwalifikasies in die toerismeafdeling aangestel.

Die ANC-meerderheid het Sithole se aanstelling as waarnemende direkteur van infrastruktuur maande gelede op ’n raadsvergadering bekragtig, ondanks heftige teenkanting uit opposisiegeledere. 

Hulle het beweer die aanstelling het te make met trogvreters wat hulself wil help aan die toelae van meer as R2 miljard wat die nasionale regering aan die munisipaliteit gee om infrastruktuur op te knap.

Die sekretaris van Samwu, Nomathamsanqa Banda, sê die stadsbestuur het ingestem om Dinsdag (16/5) om 16:00 die vergadering te hou.

‘As Sithole weer mag werk, kan die munisipaliteit maar die beleidstellings skrap’

“Die raad het geen mag om iemand se skorsing op te hef nie. Dit is ’n administratiewe besluit wat die stadsbestuurder hanteer. As die raad een persoon se skorsing ophef, dan moet almal terugkeer.

“Sithole is beslis nie spesiaal nie. As hy terugkeer, kan almal wat geskors is, terugkeer werk toe. Wat vir die een geld, geld vir die ander.”

Sy meen Sol Plaatje se beleid oor verantwoordelikheidsbestuur en sy dissiplinêre gedragskode wat in 2020 aanvaar is, word nie regverdig toegepas nie. “As Sithole weer mag werk, kan die munisipaliteit maar die beleidstellings skrap en kan enigiemand net doen wat hulle wil.”

Die vakbond eis ook dat kontrakwerkers stelselmatig ook permanent aangestel word. Dit het sedert verlede jaar nie gebeur nie.

“Sedert Oktober verlede jaar kon geen vergaderings gehou word nie weens ’n gebrek aan ’n kworum. Dus sal ons nie werk nie totdat die vergadering ingevolge die vereistes plaasvind,” sê sy.

OFM Nuus/Charné Kemp

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.