On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein bring hulde aan Sienie Jankowitz

───   07:35 Wed, 17 May 2023

Bloemfontein bring hulde aan Sienie Jankowitz | News Article

“Sy was my lagmaat, ‘n tuinier by uitstek en ‘n gasvrou wat elke bord kos met styl voorgesit het. Ek gaan haar so mis.” So onthou Hilda Rudd van Stilbaai haar hartsvriendin.

Sienie Jankowitz, eggenote van oudburgemeester Frik Jankowitz, is Maandagaand in Mediclinic Bloemfontein oorlede. Sy was 77 jaar oud. Skildklierkanker is vroeër vanjaar by haar gediagnoseer.

Dié burgemeesterspaar het nie net in hul ampstermyn vanaf 1989 tot 1990 diep spore in die gemeenskap getrap nie. Hul lojaliteit het gestrek vanaf betrokkenheid by hul kinders se skole, gasvryheid tydens onthale, asook die deel van ’n liefde vir musiek.

Ná ‘n vroeë uittrede by sy boukontrakteursfirma in Bloemfontein, het Frik en Sienie hulle in Stilbaai gaan vestig. Dit is hier waar Hilda en Sienie hul jarelange vriendskap uit die Bloemfonteindae kon hervat.

Hilda sê sy sal altyd onthou hoe die Jankowitze elke dag gegryp en voluit geleef het. Hulle het in 2022 twee keer vir hulle drie kinders, Reinet, Frikkie en Heinrich in onderskeidelik Engeland en Australië gaan kuier. Al drie kinders het onlangs in Suid-Afrika aangekom, en was Maandagaand langs hul ma se sterfbed.

Nog ‘n huisvriend skryf in ‘n roerende boodskap hoe bemoedig hy gevoel het ná ‘n hospitaalbesoek aan Sienie. Talle operasies, bestraling en die agteruitgang van haar brose liggaam kon steeds haar gevoel van dankbaarheid teenoor die lewe nie demp nie. Sy was dankbaar vir ieder blom, boodskap, die versorging van haar voltydse verpleegster, asook die kennis van elke geneesheer.

Op ‘n foto goedgunstelik deur haar dogter Reinet aan OFM verskaf, staan ’n vrolike Sienie Jankowitz  onder ‘n bloedrooi sambreel iewers in Parys. So sal Bloemfontein hierdie boorling van Klerkdorp onthou – altyd aan’t lag, altyd aan’t reis, altyd stylvol en dankbaar vir wat die lewe haar kon bied.

OFM Nuus/Elsabe de Jager


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.