Central SA
Twee vas ná Senekal-plaasaanval─── HEIDRÈ MALGAS 15:47 Thu, 18 May 2023

Twee verdagtes sal na verwagting Vrydag (19/5) in die landdroshof op Senekal verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is weens die beweerde gewapende roof op ’n boer en sy vrou en ’n vriendin op hul plaas in die distrik.
Polisiewoordvoerder Lorraine Earle sê die boer Adamus (Dami) Stemmett (53) en sy vrou, Zelda (42), asook 'n vriendin van haar, is Woensdagaand omstreeks 20:30 deur ses gewapende mans oorval terwyl hulle kruideniersware afgelaai het. Hulle het Stemmett na binne gedwing.
Die verdagtes het sy vrou en haar vriendin vasgebind en drie vuurwapens, juweliersware, selfone en kontant geroof. Die boervrou se vriendin was besig op haar foon toe die rowers toeslaan en kon hulp ontbied. Heelparty boere van omliggende plase het flink gereageer en twee verdagtes aangekeer.
Die Stemmett-gesin FOTO: Facebook
“Ná die voorval is ’n 37-jarige verdagte gearresteer en 'n groot hoeveelheid kontant is in sy besit gevind. Die bestuurder van die motor waarmee die verdagtes wou gevlug het, 'n 33-jarige vrou, is ook aangekeer.
“'n Uzzi-vuurwapen en voertuigsleutels wat aan Stemmett behoort, is buite die erf van die plaas gevind. Vyf verdagtes egter steeds op vrye voet,” het Earle gesê.
Niemand is in die voorval beseer nie. Die verdagtes sal na verwagting Vrydag (19/5) in die landdroshof op Senekal verskyn.
Stemmett was in 2005 die naaswenner in die Vrystaat se Jongboer van die jaar-kompetisie.
Enigiemand met inligting oor die saak word aangemoedig om die stasiebevelvoerder van Senekal te nader of om die Stop Misdaad- of MySAPS-app te gebruik.
OFM Nuus