On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

'Kubuskoning' staan likwidasie van sy omstrede behuisingsprojek teen

───   07:19 Fri, 19 May 2023

'Kubuskoning' staan likwidasie van sy omstrede behuisingsprojek teen | News Article
Huisgenoot-artikel

Die omstrede “kubuskoning” van Garies, Adriaan Nieuwoudt, het vol selfvertroue vertel dat hy nie bekommerd is nie oor die likwidasieproses teen sy maatskappy, Eureka Bpk, wat weer op 17 Mei ’n draai in die hof gemaak het.

Hy sweer dat geen likwidateurs hulle sal kan verryk uit dié likwidasie- aangeleentheid nie.

Die hofsaak spruit uit ’n aansoek wat ’n inwoner, van Eureka, Carolina "Carine" Lombard, in Februarie 2022 gebring het dat Eureka Bpk onder likwidasie geplaas moes word.

Lombard is van die vele inwoners wat voorheen geld in die Eureka-behuisingsprojek van Nieuwoudt belê het.

Weens beweerde bedrog het sy ongeveer R6 miljoen verloor ten opsigte van haar woning op Eureka, voer sy aan. Behalwe dit, bestaan die moontlikheid glo ook dat   inwoners op Eureka hulle huise ter waarde van miljoene kan verloor as die Kamiesberg Munisipaliteit die wonings laat sloop.

Lombard blameer Nieuwoudt vir haar penarie en probleme.

Regter J. Gamble het in Maart ’n voorlopige likwidasiebevel teen Eureka Bpk uitgereik, omdat hy glo dat Lombard se saak wel meriete het, al is dit "vaag".

Intussen het Nieuwoudt op Lombard se aansoek geantwoord deur middel van ’n opponerende verklaring, soos wat Gamble vroeër versoek het.

LEES OOK: 'Kubuskoning' se Garies-huisprojek voorlopig gelikwideer

Op Dinsdag 17 Mei is daar ooreengekom dat Lombard se regsverteenwoordiger op 30 Junie op Nieuwoudt se verklaring moet antwoord.

Die regter het dit bekragtig en die saak tot 1 November uitgestel.

Intussen bly Eureka Bpk onder voorlopige likwidasie tot dan. Daar is reeds ’n voorlopige likwidateur aangestel om die bates van Eureka Bpk te bewaar.

Nieuwoudt het aan OFM-nuus gesê dat hy en sy regspan goeie punte in sy opponerende verklarings geopper het.

Volgens hom het hulle ook al self daaraan gedink om Eureka Bpk te laat deregistreer omdat dit geen belange meer het nie. Dit val nou onder n trust wat hy ’n paar jaar gelede gestig het.

Hy is dus nie bekommerd nie dat die voorlopige likwidasiebevel finaal gemaak gaan word nie.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.