Central SA
Mangaung DA vra herstel van meer paaie─── TSHEHLA KOTELI 07:54 Fri, 19 May 2023
Die DA in Mangaung vra die munisipaliteit om Memoriumweg en Vereenigingrylaan in Bloemfontein ook te herstel.
Hul versoek kom ná die opening van die brug en Vereenigingrylaan, nadat dit twee jaar gelede vir bouwerk gesluit is.
DA-raadslid David McKay sê hulle vra dat dié twee paaie so gou moontlik herstel word omdat daar 'n toename in verkeersvloei sal wees vanweë die brug wat oopgestel is. “Boonop beklemtoon ons die dringende behoefte om die kwessie van onwettige storting, wat ontstaan het weens die padsluiting, aan te spreek,” voeg hy by.
LEES OOK: Bloemfontein bridge finally opened
Hy verduidelik dat die voorgestelde amptelike opening van die nuutgeboude pad in Junie, onnodige uitgawes aan spyseniering en geleentheidsuitgawes teweeg sal bring. Die DA se voorstel is om die fondse wat daarvoor gebruik sou word, te herlei na padmerke en verkeerstekens by die ou Vereeniging/Memoriumweg-kruising.
Hulle verwelkom egter die opening van die verlenging en die brug. “Ons is bly om te sien dat hierdie langverwagte ontwikkeling voltooi is. Dit is oorspronklik geskeduleer vir voltooiing in Maart 2022. Die pad was egter 92% voltooi teen Augustus 2022. Weens die munisipaliteit se versuim om betyds betalings aan subkontrakteurs te doen, het die pad egter gesluit gebly, wat ongerief vir die inwoners van Mangaung veroorsaak het,” verduidelik McKay.
LEES OOK: Monies still owed to contractors for Bloemfontein bridge
Die brug, wat Woensdag 17 Mei in gebruik geneem is, is tans 97% voltooi. Gregory Nthatisi, waarnemende Mangaung Metro-burgemeester, het gesê die kontrakteur op die perseel voltooi werk, soos die brug se dreinering, padmerke en tekens. Hy het sy dankbaarheid teenoor die gemeenskap van Mangaung uitgespreek vir hul geduld terwyl die pad en brug gebou is. “Ek wil graag die gemeenskap van Mangaung bedank dat hulle geduldig was met ons om die pad oop te stel. Ek kan met sekerheid sê dit is gebruikersvriendelik, maar daar is nog ligte konstruksiewerk wat sal plaasvind.”
Nthatisi het gesê die begroting wat die metro aan die konstruksie toegeken het, was R43 miljoen, maar hulle het hierdie begroting uitgeput aangesien hulle steeds verskeie kontrakteurs skuld. “Ons skuld Raubex byvoorbeeld sowat R2 miljoen. Die vorige maatskappy wat hier was, word ook sowat R2 miljoen en ’n paar duisend geskuld. Die een wat die bouwerk voltooi het, is ten volle betaal.” Nthatisi het bygevoeg dat daar ook ander uitstaande saldo's is wat nie so beduidend is nie.
