Central SA
Aktivis kaap diamanthandelaar se Facebook-blad─── 11:17 Mon, 22 May 2023

’n Ontevrede vennoot of belegger van Louis Liebenberg, ’n omstrede diamanthandelaar, het onlangs sy private Facebook-blad vir sy duisende beleggers gekaap en geïnfiltreer.
Veronica Pierce (kampvegter vir geregtigheid), het verlede week op dramatiese wyse die private Facebook-blad, Forever Diamonds Gold (FD&G) van Louis Liebenberg, geïnfiltreer en dit beheer as ’n administrateur, het sy vertel.
Dis op dié blad waar Liebenberg met sy duisende beleggers/vennote én volgelinge kommunikeer. Liebenberg was glo magteloos en geskok oor die verwikkelinge.
Sy het eers Liebenberg se plasings uitgevee.Hierna het sy vir Liebenberg as lid van sy eie blad uitgeskop en toegelaat dat ander lede van FD&G kon sê wat hulle wou sê.
Logies-gesproke het honderde vir Liebenberg getakel en hulle beleggersgeld geëis.
Ander vennote, wat Liebenberg voorheen geblokkeer het, was net so lus om weer hul besware teenoor hom die wêreld in te skiet. En hulle hét.
Almal wou later weet hoe Pierce die "onmoontlike" reggekry het.
Volgens haar glo Liebenberg verkeerdelik dat die voorlopige likwidateurs die FD&G blad aan haar oorhandig het omdat hulle al reeds beslag gelê het op die eiendom van die Tariomix-beleggingsmaatskappy waar duisende geld gemaak of verloor het, volgens hulle.
Pierce het dit só onthul: "Op 29 Maart het die likwidateurs (adv. Victor Vaughn is een) oorgeneem ná die hofbevel en alle oorspronklike admins verwyder. Duisende vennote het toe aan Facebook gerapporteer dat die FD&G blad geen administrateurs meer het nie.
"Die likwidateurs het intussen alle beheer oor die blad verloor en pandemonium, maar vreugde het geheers."
Hierna het Facebook ’n toevallige (random) administrateur uit die duisende lede gekies as ’n tydelike administrateur, volgens Pierce.
Hierdie persoon was salig daarvan bewus dat hy die toevallige administrateur was, volgens Pierce.
Weens Pierce se oplettendheid het sy vinnig die verwikkelinge opgetel daarom het sy die tydelike "random administrator" opgespoor en gevra dat hy haar die administrateur moes maak. Die res was geskiedenis.
Pierce was vir ’n dag of twee in beheer en het later die FD&G blad verander na ’n openbare blad, waarop almal kon lees.
Toe eers het die publiek, (en veral lede of vennote wat Liebenberg glo vroeër blokeer het) baljaar en vir Liebenberg uit alle rigtings bygekom en gestenig.
Intussen het Pierce die FD&G blad weer aan die likwidateurs oorhandig.
Liebenberg glo steeds dat Vaughn-hulle, as likwidateurs, hulle magte oorskry en roekeloos met sy FD&G blad te werk gegaan het. Hy het wraak gesweer.
Volgens sy regspersoon, Walter Niedinger, het hy reeds Donderdag ’n skrywe na die likwidateurs gestuur en gevra dat hulle moet verduidelik wat gebeur het.