Central SA
Twee in hof vir tenderbedrog van R420 miljoen─── 12:38 Tue, 23 May 2023
Borgtog is aan ’n voormalige hoof van die Departement van Paaie en Openbare Werke, Patience Mokhali (65), en die direkteur van Babereki Consulting Engineers, Tshegolekae Motaung (59), in die landdroshof in Kimberley toegestaan.
Mokhali is op borgtog van R10 000 vrygelaat en Motaung op borgtog van R50 000. Hulle sal weer op 11 Julie 2023 in die hof verskyn.
Hulle staan tereg op 'n aanklag van tenderbedrog van meer as R420 miljoen.
Dit hou verband met die bou van ’n fasiliteit vir pasiënte met geestesgesondheidsprobleme in 2003 in Kimberley. ’n Woordvoerder van die Valke, Nomthandazo Mnisi, sê die projek was van die begin in omstredenheid gedompel en daar was aanvanklik R290 miljoen daarvoor begroot. Die gebou gaan nou moontlik gesloop word.
’n Woordvoerder van die premier van die Noord-Kaap, Monwabisi Nkompela, sê hul inhegtenisneming word verwelkom en dat die provinsiale regering nie enige onwettige aktiwiteite duld nie.
Die hoof van die Valke, Stephen Mabuela, het ook die inhegtenisnemings verwelkom.
