Central SA
Laerskool in Bloemfontein wil keer dat kroeg naby oopmaak─── HEIDRÈ MALGAS 11:30 Wed, 24 May 2023
’n Petisie is opgestel nadat 'n kroeg sy deure wil oopmaak slegs 150m van die Onze Rust Primêre Skool in Uitsig, Bloemfontein.
Die voorsitter van die beheerliggaam van die Onze Rust Primêre Skool, Candice Ontong, sê die skool ondersteun glad nie die opening van die kroeg nie en voel dat dit nie tot die leerders of gemeenskap se voordeel gaan wees nie.
“Inteendeel, dit gaan slegs ’n negatiewe impak op die skool en gemeenskap hê. Die voordeel van potensiële werk wat dit gaan skep, gaan nie die ander nadele oortref nie,” sê Ontong.
Sy meen ook dat die leerders moontlik blootgestel gaan word aan dronk klante, of omdat die parkie oorkant die skool openbare eiendom is, die klante van die kroeg dalk daar verder gaan kuier.
Ontong sê onderwysers kan ook nie verbied word om daardie kroeg na ure te gebruik nie en dit vergroot die kanse dat kinders die personeel in ’n ongewenste lig sal sien, wat verhoudings negatief kan beinvloed.
“Daar is ook die moontlikheid dat leerders wat uit huise of gemeenskappe kom waar drank misbruik word, moontlik 'trauma triggers' kan ervaar wanneer hulle by die skool is en die kroeg se musiek hoor of die klante sien. Die skool kan heel moontlik die enigste plek wees waar die kind werklik veilig voel, en so ’n kroeg kan dit beïnvloed,” sê sy.
Die geraasvlakke en veiligheidsriko’s wek ook kommer omdat ’n kroeg die kinders kan steur, veral kinders met ADHD en auditiewe sensitiewe leerders.
“Ons leerders het sport tot laat, en dronk bestuurders kan die kinders se lewe in gevaar stel, en die leerders kry dalk ook makliker toegang tot drank, sigarette of selfs dwelms,” sê Ontong.
Hierdie kroeg beïnvloed nie net die leerders nie, maar die hele gemeenskap. Die waarde van die huise in die buurt kan moontlik verminder, goeie gesinne en families sal heel moontlik wil wegtrek en dit beïnvloed die skool, ekonomie en die gemeenskap op ’n negatiewe manier.
Die Kinderwet bepaal dat daar nie ‘n kroeg of taverne nader as 200 meter aan ’n skool mag wees nie – dit op sigself is genoeg vir hulle om as skool en gemeenskap daarteen te baklei, sê sy.
Die sluitingsdatum van die petitisie is reeds verby, maar die skool sal binnekort met die gemeenskap vergader oor die kroeg.
