Central SA
VF Plus vra Hantam Munisipaliteit om dringend vliegveld op te knap─── 13:32 Wed, 24 May 2023
Die Vryheidsfront Plus vra die Hantam Munisipaliteit om die vliegveld op te gradeer, omdat dit lugambulansdienste belemmer en nie aan die Burgerlike Lugvaartowerheid se veiligheidsmaatreëls voldoen nie.
Die Hantam Munisipaliteit wat Calvinia, Loeriesontein, Middelpos en Nieuwoudtville insluit, word daarvan beskuldig dat hy dienslewering doelbewus benadeel.
Die Vryheidsfront Plus-raadslid, Jan Palm, sê die lugvervoer van pasiënte kan nie plaasvind nie, want die vliegveld is in só ’n swak toestand dat geen vliegtuig of helikopter daar kan land of opstyg nie.

Palm sê die naaste dorpe wat hoësorg aan pasiënte kan bied, is Upington en Kaapstad. Calvinia is egter 416km van Upington en 381km van Kaapstad.
Die bestuurder van die Abraham Esau-hospitaal in Calvinia, Fabian Flores, sê indien die vliegveld herstel kan word, kan sekere mediese dienste weer gelewer word, veral vir diegene wat nie ’n mediese fonds het nie. Die Vryheidsfront Plus sê pasiënte wat dringend intensiewe sorg benodig se kans op oorlewing word op die spel geplaas omdat hulle nie betyds by die regte hospitale kan uitkom nie.
Die woordvoerders van die Noord-Kaap se Departement van Gesondheid, Lulu Mxekezo en Lebogang Majaha, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
