Central SA
Ware fees wag op literatuurliefhebbers─── 14:15 Thu, 25 May 2023
Sedert die bekendstelling van die Vrystaat Kunstefeesprogram verlede maand trek belangstellendes hul winterbaadjies nader.
Die literatuurfees vorm deel van die Kunstefees wat vanjaar van 11 tot 15 Julie vir die eerste keer sedert 2019 weer in die winter plaasvind.
Die organiseerder van die literatuurfees, Maritsa Barlow, stel boekliefhebbers gerus. Hoewel die fees vanjaar korter is, is die program volgepak met voorlesings, boekbesprekings, en kinderstorietye.
Die fees vind plaas in die ATKV Boekeoase op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat.
Hoogtepunte sluit in die gesprekvoering tussen Francois Smith en Jan van Tonder, skrywer van Sagie se storie. ‘n Drieluik.
Gert Coetzee gesels met Rudi van Rensburg oor Dwelm, en Ansja Ferreira deel lewensgedagtes uit haar nuwe boek ‘n Sjerpa vir jou lewensreis.
Die bekroonde Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs is ook aan die woord oor sy nuwe boek Die meisie met vlerke.
In die eerlike gesprek tussen Ruda Landman en Annemarie van Niekerk oor haar nuwe boek Onder ‘n bloedrooi hemel: liefde en geweld in Suid-Afrika, verken hulle vraagstukke waarmee ons worstel, soos plaasmoorde, skuld en onmag.
Barlow verseker elke leser van ’n opwindende en leersame reis deur dié winterweek.
