Central SA
Gebaretaal-viering in Noord-Kaap gehou─── TSHEHLA KOTELI 17:16 Fri, 26 May 2023

Die nuus dat gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal erken word, sal op Saterdag, 27 Mei 2023 deur die Dowe-federasie van die Noord-Kaap by die Horseshoe Inn in Kimberley gevier word.
Die maatskaplike werker by die federasie, Aadidah Loff, sê die nuus is wonderlik omdat dowes baie uitdagings ervaar. Om dit te staaf haal sy die nasionale voorsitter, Desmond Kgarebe, aan wat sê die uitdagendste ding wat dowes in die land ervaar is die gebrek aan tolke in openbare ruimtes.
Lees ook: Call for Sign Language to be recognised as SA's 12th language
“As ’n mens na die hospitaal gaan, is dit moeilik om hulp te kry omdat daar nie tolke is nie,” sê hy.
Kgarebe sê toeganklikheid en kommunikasie is van die grootste struikelblokke. “Die regering moet in tolke belê, want by elke departement sukkel jy om hulp te kry, asook by die polisiekantore.”
Hy sê die erkenning van gebaretaal is iets waarop ons trots kan wees ná jare se gesukkel.
Harry Setlogelo, ’n werker van die federasie, sê dit sal ’n vreugdevolle viering wees. “Die stryd is gewen, nou is dit tyd om fees te vier.”