Central SA
Bloemfontein-vroue hekel 30 ure aaneen─── HEIDRÈ MALGAS 11:10 Sat, 27 May 2023
Die ATKV Arendsnes-tak aan die Wesrand bied ’n landswye hekelmaraton aan, waaraan ’n groep vroue van Bloemfontein deelneem.
Volgens Annatjie Bezuidenhout, koördineerder van die Bloemfontein-groep, word die marathon oor 30 ure aangepak en word die gehekelde komberse geskenk aan minderbevoorregtes. Tydens die maraton moet iemand deurentyd hekel.
“Ons is die Bloemfonteinse hekelhoekie wat deelneem aan die nasionale hekelmaraton. Dit is eintlik Leandra van Wyk, die ondervoorsitter van die Maak ’n Verskil-groep, se projek. Hulle hoofdoel is nie net liefdadigheid nie, maar ook om taal en kultuur bymekaar te bring om te kuier en te hekel,” vertel Bezuidenhout.
Sy vertel dat deelnemers blokkies hekel van 20x20cm, wat dan aanmekaar gehekel word om ’n kombers van 36 blokkies te maak. Een van die doelwitte is om die rekord te breek van die vorige hekelaars.
“Daar moet vir 30 ure aanmekaar gehekel word. Dit het Vrydag, 26 Mei om 12 uur begin en gaan regdeur tot Saterdagmiddag 6 uur.”
Sy vertel ook dat die groep se volgende projek is om hande te vat met die 67 Blankets-groep en projekte saam met hulle te doen. “Ons dink om serpe en mussies vir volgende jaar te doen,” sê Bezuidenhout.
Die hekelmarathon duur tot vanaand 6 uur.
