Central SA
Likwidateurs neem beheer van diamanthandelaar se webwerwe─── 07:59 Tue, 30 May 2023
Chaos, verwarring en woede heers onder beleggers en vennote nadat die voorlopige likwidateurs op Maandag 29 Mei die beheer van drie webwerwe oorgeneem het – Zircon, Forever Diamonds & Gold en Telgowell – van ’n beleerde diamanthandelaar.
Dit is die webwerwe waarop duisende beleggers geld kon belê in "diamantpakkies" waarop hulle goeie winste kon maak. Die beleggings is deur middel van die e-wallet-stelsel gedoen.
Die ander beleggingsmaatskappy, Tariomix, is vroeër in Februarie vanjaar deur die Hooggeregshof in Mahikeng onder voorlopige likwidasie geplaas nadat twee beleggers só ’n aansoek gebring het.
Hulle beweer dat diamanthandelaar Louis Liebenberg hulle duisende rande aan kapitaal en opbrengste skuld.

Louis Liebenberg, wat in 'n luukse omheinde gemeenskap in Bronkhorstspruit woon, het in April 2022 aan Zuma twee Nguni-beeste by sy woning in Nkandla oorhandig. FOTO: Facebook/Forever Diamonds & Gold
Die likwidateurs het reeds beheer oorgeneem oor een van Liebenberg se Facebook-blaaie waarop hy met sy beleggers gekommunikeer het.
Vandag se gebeure was ’n skok vir die paar duisend beleggers (sy "arende") wat Liebenberg nog getrou steun en by hom belê, ten spyte van die hangende likwidasie- aangeleentheid.

Verlede week het Liebenberg nog ’n laaste poging aangewend om te keer dat Tariomix finaal gelikwideer gaan word.
Hy het aan sy beleggers ’n soort referendumbrief gestuur waarop hulle teen Maandag 29 Mei per e-pos moes aandui of hulle die likwidasie steun of daarteen is.
Liebenberg glo onwrikbaar dat ’n finale likwidasiebevel teen Tariomix katastrofies vir die duisende beleggers gaan wees omdat hulle miljoene gaan verloor, in sy woorde.
Volgens ’n belegger, Veronica Pierce, is Liebenberg vierkantig en alleen verantwoordelik vir die gemors waarin sy maatskappye en die beleggers tans is. Sy het gelukkig nie so baie geld belê soos sommige "hoendertjies" nie (Liebenberg se spotnaam vir beleggers wat teen hom gedraai het).
Pierce het gesê: "As Liebenberg die beleggers uitbetaal het soos wat hy belowe het, was hy nie nou in dié penarie nie."
Louis Liebenberg erken sy diamantskema is in diep waters nadat die meeste van sy volgelinge opgehou het om sy pakkies diamante te koop. Daar was groot drama by sy kantore in Kempton Park toe hy die afgelope week daar opgedaag het om ‘n sogenaamde verraaier uit te snuffel. pic.twitter.com/PIom2w5G3f
— Rapport (@RapportSA) October 29, 2022
Liebenberg het intussen gesê Vaughn-hulle het sy webwerwe gekaap, maar hy sal hulle laat verwyder.
"Hulle het beslag gelê op ons rekenaars en beheer oor die domein van ons e-wallet-stelsel verkry. Hierdie optrede van Vaughn beteken ook nou sy einde as ’n likwidateur."
Vaughn kon nie betyds vir kommentaar bereik word nie.

