Central SA
Orania reik ’n nuwe ora-reeks uit─── ELSABÉ DE JAGER 11:02 Thu, 01 Jun 2023
Van Donderdag (1/6) af sal die nuwe H-reeks van Orania se ora-geldstelsel die enigste noot in omloop wees.
Dié nuwe reeks wat die G-reeks vervang, is op 21 April bekendgestel.
Die ora, Orania se eie ruilhandelmiddel, is nie ’n geldeenheid nie, maar ’n koeponstelsel. Dit word gerugsteun deur rande in die bank en die verhouding is 1:1.
Sakekamerlid Annamarie van der Merwe skryf in ’n onlangse artikel die ora dra al 20 jaar by tot Orania se selfstandigheid.

Orania se ora is nie ’n geldeenheid nie, maar ’n ruilmiddel vir gebruik in dié Noord-Kaapse gemeenskap. FOTO: Verskaf
Die idee vir ’n geldstelsel eksklusief aan Orania is geopper deur prof. Johan van Zyl. Hy het dit beskou as ’n instrument vir selfbemagtiging. Die idee is versterk deur advies van die omgewingskundige dr. Colin Hudson van Barbados en ekonoom dr. Norman Reynolds op besoeke aan Orania. Ná deeglike ondersoek deur ’n komitee van die Orania Ontwikkelingsforum is die eerste ora-reeks op 29 April 2004 van stapel gestuur.
Die ontwerp van die H-reeks put inspirasie uit inheemse bome en bokke in die omgewing van die nedersetting. Petra Langner was as kunstenaar en Annamarie van der Merwe as grafiese ontwerper hierby betrokke.
‘Op trek na ons eie!’
’n Steenbok en witstinkhoutboom pryk op die tien-ora-noot. Dit simboliseer Afrikaners wat trots in verskillende omstandighede bly staan, planne beraam om hul eie veiligheid te verseker en te floreer waar hulle groei.
Op die 20-ora-noot verskyn ’n soetdoringboom. Dit verwys na die skadu en groeigeleentheid wat Orania reeds 30 jaar lank bied.
’n Springbok en witgatboom versier die 50-ora-noot. Die rustigheid van die springbok en die diep wortelstelsel van die witgatboom dui op die diepliggende strewe van Orania – “Op trek na ons eie!”

Die reeks bestaan uit vyf note en die waarde is dieselfde as ’n rand. Foto verskaf
Die veeldoeligheid van die kameeldoringboom op die 100-ora-noot skets die versinnebeeld vir elke man, vrou en kind van Orania om hul volle potensiaal te verwesenlik.
Die 200-ora-noot vertoon die koedoe wat in familiegroepe beweeg, asook die witkaree, wat bestand is teen koue en droogte. Afrikaners in Orania leef rustig en statig saam as ’n groep.
Tony Correia, voorsitter van die Orania Sakekamer, sê die oorgangstyd waartydens G- sowel as H-note gebruik kon word, het Woensdag (31/5) verstryk.
Gevra oor die moontlike vervalsing van ora-note sê Correia streng voorkomingsmaatreëls geld. Die ora is ’n koepon van die rand en word ook gereguleer deur die Reserwebank se wetgewing.
