Central SA
Rukwinde rig ernstige skade in Bloemfontein aan – FOTO’S, VIDEO'S─── HEIDRÈ MALGAS 11:29 Thu, 01 Jun 2023
Rukwinde het deur die strate van die Ou Oos-Einde in Bloemfontein gewoed vroeër die week en ernstige skade aan ondernemings veroorsaak.
Bome is ontwortel en dakke van sommige ondernemings het afgewaai.
Volgens Johan van den Berg, landbouweerkundige, het dieselfde soort rukwind wat Bloemfontein dié week getref het, ook vroeër in Meimaand skade in die Bainsvlei-omgewing aangerig toe huise se dakke afgeruk is en bome beskadig en omgewaai is.
“Tornados of rukwinde word gevorm deur donderstorms wat Bloemfontein wel die afgelope paar dae gehad het. Dis ‘n onderliggende groter storm waarin hierdie tornado ingebed is en dit gebeur oor die vertikale winde wat hiermee saam gaan, dan ontwikkel ‘n tipe van ‘n warrelwind wat baie sterk energie het wat dan hierdie verskynsels in kleiner gebiede kan laat voorkom,” vertel Van den Berg.
Die Vrystaat het ook erge donderstorms, reën en koue ervaar die afgelope week.
Van den Berg sê die swaar reën in Mei is nogal abnormaal en reënval vir Mei in die Vrystaat is gewoonlik tussen 15 en 25mm. Die Vrystaat het al in baie dorpe tussen 50-100mm reën gehad, wat baie meer as die gewone reënval is.
Hy vertel ook dat dit die oorblyfsels van die La Nina-verskynsel kan wees. Tydens La Nina seisoene kry ons ook dikwels baie reën in Mei. Hy sê ’n mens kon dit verlede jaar en die jaar voor dit ook sien.
Die Vrystaat kan ‘n baie koue winter verwag, sê hy.
